|

AfriForum spring self in om rioolprobleem in Welkom op te los

Die AfriForum-tak in Welkom het op 25 Mei 2020 ’n kontrakteur aangestel om van die mangate in die Lakeview-woonbuurt in Welkom skoon te maak. Dít volg nadat inwoners van die Doorns-, Lakeview- en St. Helena-woongebied AfriForum genader het met klagtes oor rou riool wat op sommige plekke hul erwe oorspoel.

Die organisasie het sedert Augustus 2019 reeds verskeie skrywes aan die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit gerig oor rou riool in erwe. Die rou riool hou verskeie gesondheidsrisiko’s vir die inwoners in en dit vloei soms vir weke aaneen uit die mangate. Dit is op sommige plekke só erg dat mense om die riool en selfs deur dit moet beweeg om by hul voertuie uit te kom. Die munisipaliteit het egter nog geen poging aangewend om hierdie probleem op te los nie.

“AfriForum kon nie meer toekyk hoe hierdie mense, veral tydens die inperking, elke dag in en om die riool moes leef nie. Daarom het ons ingespring om die inwoners se omgewing te verbeter. Inwoners het die reg tot ’n skoon omgewing en dit is skokkend om te sien dat die munisipaliteit niks aan hierdie situasie doen nie,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

“Munisipaliteite is tydens die inperking steeds verantwoordelik om hul pligte na te kom. AfriForum glo in selfdoen en ons sal, waar ons kan, self oplossings vir probleme vind,” sê Nel verder.

AfriForum het op 21 Mei 2020 strafregtelike klagtes teen Zingisa Tindleni, munisipale bestuurder van die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit, ingedien oor die rou riool in inwoners se erwe. AfriForum sal voortgaan om hierdie probleme onder die munisipaliteit se aandag te bring en sal ook aanhou om druk toe te pas totdat dit reggestel is.

AfriForum se Welkom-tak nooi die gemeenskap uit om by die organisasie se toekomstige projekte en aksies betrokke te raak. Sluit by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS “Welkom” na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings