AfriForum spreek waterkrisis in Tswaing aan


Die AfriForum-takke in die Tswaing-gebied naamlik Delareyville, Ottosdal, en Sannieshof het genoeg gehad van die waterkrisis in dié gebied. Die inwoners van hierdie dorpe gaan reeds vir maande, sommige selfs vir jare, gebuk onder swak watervoorsiening.
AfriForum het daarom ’n vergadering met die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit, asook die Ngaka Modiri Molema- en die Sedibeng Distriksmunisipaliteite belê. Die distriksmunisipaliteite is verantwoordelik daarvoor om te verseker dat daar water in die pype is, en die plaaslike munisipaliteit moet dit aan inwoners versprei.

“Daar is verskeie faktore wat tot hierdie waterkrisis bydra. Pompe en drade wat deur Sedibeng voorsien is, is byvoorbeeld by ’n nuwe wateraanleg gesteel terwyl daar ten duurste vir sekuriteit betaal word. Waterlekkasies word ook in party gevalle vir etlike maande nie herstel nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.
“Dit lyk in baie gevalle asof die verantwoordelike mense net eenvoudig nie omgee nie. AfriForum het twee weke aan beide munisipaliteite gegee om met ’n aksieplan vorendag te kom en gaan later hierdie maand weer oor die kwessie vergader. Indien AfriForum nie tevrede is met die vordering nie, sal daar regstappe geneem word, want watervoorsiening is die munisipaliteite se grondwetlike plig,” sluit Pretorius af.

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Tswaing” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings