|

AfriForum spreek lede van Vlaamse parlement toe oor Afrikaanse taalstryd

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum en hoof van die burgerregte-organisasie se internasionale skakeling, het lede van die Vlaamse parlement gister toegespreek oor die geweldige aanslae op Afrikaans as onderrigtaal in Suid-Afrika.

Dié ontmoeting vind plaas as deel van AfriForum se skakeltoer om internasionale betrekkinge tussen die burgerregte-organisasie en ander Afrikaanse stamlande verder uit te bou.

Bailey en dr. Heinrich Matthee, ʼn politieke risiko-ontleder en akademikus, het onder andere met Marc Hendrickx, ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse belangegroep in Vlaandere en Manuela van Werde, wat vir kultuur en onroerende erfenisbewaring verantwoordelik is, ontmoet, waarna hulle ook ‘n sitting van die Vlaamse parlement bywoon het.

Volgens Bailey is die Vlaamse volksverteenwoordigers bekommerd om te hoor van die druk wat Afrikaans tans op alle vlakke in Suid-Afrika se onderwyssektore ervaar. “Weens ons gedeelde verlede en ook die Vlaminge se eie taalstryd, het hulle begrip vir ons kommer oor Afrikaans,” meen sy.

“Hulle besef die belangrikheid van ʼn taal en die rol wat dit speel in gemeenskappe asook vir welvaartskepping in ‘n land.”

Volgens Bailey handhaaf die Vlaminge hul taal met trots en toewyding, ondanks die druk wat hul ook tans ervaar om te verengels.

Sy sê voorts dat die Vlaamse parlementslede vasbeslote is om kontak met die burgerregte-organisasie te behou. “As ons toelaat dat ons tale verlore gaan, sal dit in ʼn intellektuele ramp ontaard,” het Hendrickx oor die lande se onderskeie taalstryde gesê.

As deel van dié toer besoek Bailey ook vandag verteenwoordigers van verskeie minderheidsbelangegroepe in België.

Soortgelyke plasings