AfriForum spreek bekommernis uit oor beweerde hantering van onwettige immigrante


Dit het onder AfriForum se aandag gekom dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) na bewering onwettige immigrante wat gedeporteer moes word ver van alles afgelaai het om self hul pad na hul tuisland terug te vind.
In die lig hiervan het AfriForum ’n skrywe aan die SAPD en die departement van binnelandse sake gerig waarin hy sy kommer hieroor uitspreek. Die voorval waarna verwys word, het plaasgevind toe 11 Malawiese immigrante na bewering op Maandag 4 Februarie 2019 deur gemeenskaps­lede in die Afguns-gebied gesien is. Hierdie gemeenskapslede het die SAPD gekontak, waarna die SAPD die onwettige immigrante na bewering na die polisiestasie geneem het. Twee ander voorvalle het ook na bewering in die Ant’s Hill-gebied plaasgevind, waar onwettige immigrante opgemerk is en deur lede van die gemeenskap na die polisiestasie geneem is.

Volgens Aldo Venter, AfriForum se Ellisras-takvoorsitter, is die immigrante egter na bewering net deur die SAPD langs die pad afgelaai en is daar na bewering vir hulle gesê dat hulle Johannesburg toe moet gaan. “Hulle het geen kos of geld nie. Ek het vir hulle kos gekoop en iets gegee om te drink, waarna hulle deur Bulgerivier SAPD na die polisiestasie geneem is. Die immigrante het na bewering vir ’n geruime tyd onder ’n brug geslaap,” sê Venter.
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Soutpansberg, is dit onverantwoordelik van die SAPD om die immigrante net in ’n landelike gebied af te laai sonder om te dink aan die nagevolge wat dit vir die gemeenskap kan inhou. “Die moontlike veiligheidsimplikasies vir die plaaslike gemeenskap is groot. Dié immigrante het geen heenkome of kos nie. Verder het die polisie na bewering ook geen rekord van dié immigrante nie. Ons verstaan dat dit die departement van binnelandse sake se verantwoordelikheid is om die immigrante te deporteer, maar die polisie kan ook nie so onverantwoordelik optree deur hierdie mense net in ’n vreemde land aan hul eie lot oor te laat nie,” sê Grobbelaar.

Grobbelaar doen in die brief ’n beroep op die SAPD en die departement van binnelandse sake om onwettige immigrante op ’n verantwoordelike wyse in die land waar hulle burgerskap geniet terug te besorg, sonder dat dit die veiligheid van die plaaslike gemeenskap in gedrang bring.

“Albei departemente is verantwoordelik vir die hantering van onwettige immigrante en ons sal hulle aanspreeklik hou vir enige voorvalle wat dalk uit hul nalatigheid mag spruit,” sluit Grobbelaar af.

AfriForum versoek dat boere in die verskillende gebiede rondom Lephalale op die uitkyk moet wees vir onwettige immigrante wat deur die SAPD afgelaai word, en om dit dan onmiddellik aan te meld.

Soortgelyke plasings