|

AfriForum-span help om duisende bokse by boervroue te kry

Oorweldigend!

Dit is waarskynlik die beste woord waarmee die Boks-vir-’n-Boervrou-projek beskryf kan word.

AfriForum, wat aangebied het om ’n aflaaipunt te wees vir die projek, is die afgelope week letterlik oorstroom met bydraes van die publiek. Elke dag het ’n verteenwoordiger van ’n skool, ’n kerk of onderneming of individue op eie stoom met ’n besending bokse gekom. Die organisasie het later die trollies permanent by die ingang laat staan om mense met die aflaai van die skenkings te help.

AfriForum het etlike duisende bokse ontvang en moes in ’n stadium van sy personeel na ander kantore skuif omdat daar nie meer stoorplek was nie.

Weldoeners wat bokse kom aflaai het, was self stom van verbasing oor die reaksie wat die projek ontlok het. Vir baie was die aanskoue van soveel hulp emosioneel en kon hulle nie hul trane keer nie.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die welwillendheid van gewone mense is oorweldigend. “Ons het gedink een of twee stoorkamers sou genoeg wees. Die reaksie is ongelooflik en dit gee mens hoop vir die toekoms.”

Die projek is deur twee vroue van die Wellington VLV aangepak. Die bokse is vir boervroue in drooggeteisterde gebiede soos die karoo bedoel, maar gaan waarskynlik ook na boervroue in nood in ander provinsies versprei word.

Die land gaan onder van die ergste droogtes in 100 jaar gebuk en daar is daagliks hartverskeurende verhale van mens en dier wat verskriklik swaarkry en in baie gevalle moed opgegee het.

Op sommige plase het dit vyf jaar laas gereën en talle boere moes hul vee drasties verminder. Die droogte het ook ’n sielkundige impak op boere en hul gesinne. Onlangs het twee boere selfmoord gepleeg omdat hulle nie meer kans sien om te boer nie.

 

Soortgelyke plasings