AfriForum, Solidariteit nader internasionale sportliggame om politieke inmenging in sport hok te slaan

 

AfriForum en Solidariteit gaan vandeesmaand die verslag Transformasie in SA Sport: Telbord nie in regering se guns by vyf internasionale sportliggame indien. Die verslag fokus op politieke inmenging in Suid-Afrikaanse sport. Dit volg nadat die burgerregtewaghond en vakbond deur middel van hofstukke inligting bekom het rondom die najaag van ’n rasgebaseerde kwotastelsel in Suid-Afrikaanse sport.
Die organsiasies gaan Wêreldrugby, die Internasionale Krieketraad, die Internasionale Netbalfederasie, die Internasionale Olimpiese Komitee en die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies besoek. Tydens die besoek gaan AfriForum en Solidariteit in fynere besonderhede wys hoe die betrokke Suid-Afrikaanse sportliggame direk teen die internasionale reëls en regulasies van die betrokke sportsoorte opgetree het.

“Politieke inmenging in sport is direk in konflik met die reëls en regulasies van die internasionale sportliggame wat besoek gaan word. In die vorige bedeling het die ANC aangevoer dat meriete alleen die maatstaf moet wees, nou volg hulle nie hul eie standpunt nie,” sê Henk Maree, AfriForum se woordvoerder.

Maree sê voorts dat die inmenging in sport deur Suid-Afrikaanse politici bloot ’n wyse is om goedkoop blootstelling te kry om hulle eie agendas te bevorder.

“Die enigste wyse waarop politici volhoubaar tot sport kan bydra, is om hulself toe te spits op die verantwoordelike besteding van fondse om jong atlete se talente te ontwikkel – ongeag hul ras.”
“Hoewel dit skreiend is dat die regering sulke strawwe rassekwotas afdwing, is dit egter geen verrassing nie. Plaaslike rassewetgewing en internasionale ooreenkomste is vir die regering maar net lippetaal,” sê Anton van der Bijl, Solidariteit se woordvoerder.

Volgens Van der Bijl is die regering se rasse-ideologie lankal reeds sigbaar en kan die party sy rasgedrewe motiewe nie meer verbloem nie.

“Die hof moet die ontneming van geleenthede aan uitnemende plaaslike sportlui weens die regering se onwettige rassekwotas veroordeel,” voeg hy by.

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, sê dat hul navorsing aandui dat die stelsel nie bevooroordeeld is nie.

“Die enigste manier om meer swart springbokke te kry, is om meer swart skoolseuns te kry om rugby te speel – daar is geen kortpad nie. Ons moet na ’n sportomgewing beweeg waar uitnemendheid hoogty vier; een wat meer besorg is oor die telbord as die spanfoto.”

Die publiek word aangemoedig om hul steun te wys en hul naam by die klag te voeg wat ingedien gaan word deur AfriForum se webtuiste te besoek of hul naam na 45113 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings