AfriForum, Solidariteit dien klag teen rassekwotas by Wêreldrugby se hoofkantoor te Dublin in

AfriForum en Solidariteit het op 7 Julie ’n amptelike klag teen rassekwotas en politieke inmenging in Suid-Afrikaanse rugby by Wêreldrugby se hoofkantoor in Dublin, Ierland, ingedien. Hierin word Wêreldrugby gewys op die manier waarop die Suid-Afrikaanse regering polities by Suid-Afrikaanse rugby se werksaamhede inmeng, asook op die feit dat ras ’n deurslaggewende rol in spankeuses speel. Politieke inmenging en rassediskriminasie word uitdruklik deur Wêreldrugby se reëls en regulasies verbied.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, was die indiening van die klag by Wêreldrugby die eerste stap in AfriForum en Solidariteit se internasionale veldtog teen rassekwotas. Hierdie indiening sal in die komende twee weke opgevolg word met die indiening van soortgelyke klagtes by die Internasionale Krieketraad, die Internasionale Netbalfederasie, die Internasionale Olimpiese Komitee en die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies se onderskeie hoofkantore.

Henk Maree, AfriForum se woordvoerder wat deel vorm van die afvaardiging wat saam met Kriel die klag by Wêreldrugby ingedien het, sê dat AfriForum genoop was om Wêreldrugby te nader, aangesien die burgerregtewaghond se pogings om SA Rugby te oortuig om van rassekwotas af te sien, op dowe ore geval het. “AfriForum is realisties oor die feit dat die indiening van die klag nie ’n kitsoplossing sal bied nie, maar dit dien as ’n stewige begin van ʼn deurlopende proses om internasionale teenstand teen rassekwotas te bewerkstellig.” Maree sê voorts dat die inmenging in sport deur Suid-Afrikaanse politici bloot ‘n taktiek is om goedkoop blootstelling te kry om hulle eie agendas te bevorder. “Die enigste wyse waarop politici volhoubaar tot sport kan bydra is om hulleself toe te spits op die verantwoordelike besteding van fondse om jong atlete se talente te ontwikkel – ongeag hulle ras.”
Maree sê voorts dat die inmenging in sport deur Suid-Afrikaanse politici bloot ’n taktiek is om goedkoop blootstelling te kry om hulle eie agendas te bevorder. “Die enigste wyse waarop politici volhoubaar tot sport kan bydra, is om hulleself toe te spits op die verantwoordelike besteding van fondse om jong atlete se talente te ontwikkel – ongeag hulle ras.”

Soortgelyke plasings