AfriForum, Solidariteit dien klag teen rassekwotas in by IOK en IAAF

AfriForum en Solidariteit het vandeesweek amptelike klagtes teen rassekwotas en politieke inmenging in Suid-Afrikaanse sport ingedien by die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) se hoofkantoor in Lausanne, Switserland, asook by die Internasionale Assosiasie van Atletiekfederasies (IAAF) se hoofkantoor in Monaco.

Hierdie twee sportliggame is daarop gewys dat die Suid-Afrikaanse regering polities in Suid-Afrikaanse sportwerksaamhede inmeng, asook op die feit dat ras toenemend ’n deurslaggewende rol in spankeuses speel. Politieke inmenging en rassediskriminasie word uitdruklik deur die IAAF en die IOK se reëls en regulasies verbied.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die regerende party in Suid-Afrika se propaganda meegebring dat die gebruik van raskriteria in die kies van sportspanne toenemend in Suid-Afrika as normaal gesien word, terwyl dit in wese abnormaal en strydig met internasionale reëls is. “Die indiening van dié klagtes is nie ’n kitsoplossing vir die probleme in SA sport nie, maar dien as ’n stewige begin vir ’n uitgebreide proses om internasionale steun te wen in die stryd teen die rasbeheptheid van die Suid-Afrikaanse regering en plaaslike sportliggame,” sê Kriel.

AfriForum en Solidariteit het onder andere gevra dat die IOK en die IAAF hul eie ondersoek loods rondom die implementering van rassekwotas in Suid-Afrikaanse atletiek en ander sporte. Voorts versoek die burgerregtewaghond en vakbond dat hierdie twee sportliggame opdrag gee dat afstand gedoen word van die diskriminerende, rasgebaseerde beleid waardeur Suid-Afrikaanse sportlui benadeel word en dat die land se keuringsbeleide belyn word met internasionale standaarde en praktyk.

Atletiek Suid-Afrika oortree spesifiek Artikel 3 van die grondwet van die IAAF. Dié artikel stel dit duidelik dat daar geen politieke inmenging in sport mag wees nie en dat daar geensins gediskrimineer mag word teen ’n atleet op grond van sy ras nie. “Dus ’n duidelike voorbeeld van ’n Suid-Afrikaanse sportliggaam wat internasionale reëls oortree,” sê Henk Maree, woordvoerder van AfriForum.

Hierdie week se indiening van klagtes sal later in die week opgevolg en afgesluit word met die indiening van ’n soortgelyke klag by die Internasionale Krieketraad se hoofkantore in Dubai.

Soortgelyke plasings