|

AfriForum soek dringende hofbevel teen haglike Covid-19-kamp

AfriForum sal Woensdag ’n dringende aansoek in die hooggeregshof in Pretoria bring teen die omstrede Zithabeseni-kwarantynkamp buite Groblersdal waar meer as 100 mense in beweerde haglike omstandighede en teen hul sin aangehou word.

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, sê die organisasie se aansoek kom daarop neer dat die hof gevra word dat toestemming gegee word dat almal in die kamp vir Covid-19 getoets word en dat diegene wat nie positief toets nie vrygelaat en toegelaat word om hulself te isoleer. Indien van die besoekers wel positief toets, word versoek dat die fasiliteit onmiddellik op die standaard vir kwarantynkampe gebring word.

AfriForum het by die kwessie betrokke geraak nadat van die persone wat in die kamp aangehou word die burgerregte-organisasie om hulp genader het.

Forum Nuus het vroeër berig oor dr. Leon Nel, ’n veearts van Midrand, en sy vrou, Melanie, wat in haglike omstandighede saam met hul twee klein kindertjies in die kamp aangehou word. Dit is vandag hul agtste dag in die kamp. Die gesin was vroeër vyf weke in self-isolasie in Mosambiek en wou na beraadslaging en gesprekke met die Suid-Afrikaanse owerhede terugkeer.

Hulle is egter by die grens tussen Mosambiek en Suid-Afrika aangesê dat hulle eers na die kwarantynkamp moet gaan.

Nel en verskeie ander mense meen die geriewe by die kamp is glad nie op standaard nie en hulle vrees dat hulle juis hier siek kan word. Die voedsel wat voorgesit word maak onder meer ook nie vir van die mense se siektetoestande soos diabetes voorsiening nie. Van die personeel het aanvanklik ook geen maskers of handskoene gedra nie en daar is nêrens enige bewyse dat die kamp aan die nodige veiligheids- en gesondheidsmaatreëls in byvoorbeeld die kombuis of waskamers voldoen nie. Van die klagtes is dat die rondawels vuil en vervalle is en dat van die toilette en storte stukkend is. Daar is ook ’n vullisterrein naby die kamp met bobbejane wat wild rondhardloop.

Die departement van toerisme in Mpumalanga het egter gesê die kamp se geriewe is wat hul betref op standaard.

Die aangehoudenes is veral omgekrap omdat die dokter by die kamp nie wil toelaat dat hulle getoets en vrygelaat word nie. Volgens haar mag dit eers op dag 11 of 14 ná hul aankoms gebeur.

AfriForum het intussen ingegryp en ’n ambulans met opgeleide verpleegpersoneel en ’n diensverskaffer van ’n erkende laboratorium gereël om die inwoners vir die virus te toets. Die personeel by die kamp het hulle toegang geweier en die hulp van die polisie en brandweer ingeroep. Hulle is ook met arrestasie gedreig. Die dokter by die kamp beweer die mense kan nie sonder skriftelike toestemming van die provinsiale gesondheidsdepartement getoets word nie.

Roets meen die optrede van personeel en die situasie by die kamp kom neer op ’n growwe skending van mense se basiese vryheid. “Wat daar gebeur, is eenvoudig ontoelaatbaar en daarom het AfriForum besluit om die hof op ’n dringende basis te nader.”

Nel meen die houding van die personeel by die kamp en van die regering maak nie sin nie. “Ons is bereid om ons op eie onkoste vir die virus te laat toets wat die las op die staat sal verlig. Dit is al wat ons vra sodat ons kan huis toe gaan en in self-isolasie kan gaan as dit nodig is.”

Soortgelyke plasings