AfriForum soek antwoorde van Sassa in KwaZulu-Natal


AfriForum het onlangs antwoorde van die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheids­agentskap (Sassa) in KwaZulu-Natal geëis nadat verskeie klagtes deur AfriForum en Helpende Hand ontvang is, omdat dokters wat tydelik-ongeskikte pasiënte moet ondersoek nie kontrakte toegeken word nie. Hierdie pasiënte moet jaarliks deur Sassa-dokters geëvalueer word ten einde te bepaal of hulle vir toelaes kwalifiseer.
Sassa se versuim om kontrakte aan dié dokters toe te ken het daartoe gelei dat baie van hierdie pasiënte vir maande geen toelaes ontvang het nie, omdat daar geen dokters was om hulle te evalueer nie. Volgens betroubare bronne is vanjaar die tweede opeenvolgende jaar wat dié agentskap in sekere dele van dié provinsie nie interne mediese praktisyns aangestel het nie.

“Die onbevoegdheid van Sassa skep ’n maatskaplike krisis vir reeds kwesbare mense. Daarom het AfriForum Sassa se provinsiale en nasionale kantore genader om antwoorde te verskaf,” sê Peet Liebenberg, ’n AfriForum-komiteelid in Newcastle.
“Die nasionale kantoor het aan AfriForum beken dat die probleem aandag geniet en dat die geaffekteerde areas – naamlik Richardsbaai, Newcastle, Nkandla, Nongoma en die laer-Umfolozi-distrik – reeds onlangs met pasiëntevaluasies begin het. Vryheid behoort teen einde Februarie 2018 met hul werksaamhede te begin,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.

AfriForum sal voortgaan om die bedrywighede te moniteer.
Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke deur jou naam te SMS na 45267 (R1).

Soortgelyke plasings