|

AfriForum soek antwoorde van regering oor uitlewering van Grace Mugabe

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het vandag in ’n skrywe aan adv. JB Skosana, direkteur-generaal van die Departement van Justisie en Staatkundige Ontwikkeling, versoek dat hy bewyse verskaf dat sy Departement die nodige stappe gedoen het om te verseker dat Grace Mugabe aan die Suid-Afrikaanse owerhede uitgelewer word vir die vervolging op aanklagtes van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Mugabe het Gabriella Engels, ’n Johannesburgse model, in 2017 met ’n elektriese verlengingskoord aangerand en ernstig beseer.

Dít volg nadat adv. Shamilla Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), AfriForum se privaatvervolgingseenheid in Junie 2020 in kennis gestel het dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) reeds in Julie 2019 ’n aansoek vir die uitlewering van die beskuldigde by die Departement ingedien het. Die NVG het ook geëis dat hierdie aansoek aan die Zimbabwiese owerhede oorgedra word.

Volgens Andrew Leask, hoofondersoeker by die privaatvervolgingseenheid, wil AfriForum weet of hierdie aansoek formeel aan die Zimbabwiese owerhede gestuur is en of daar enige antwoord daarop was. “Hierdie saak sloer al sedert 2017 en ons sal aanhou om druk op die regering te plaas om seker te maak dat Mugabe uiteindelik tot verantwoording gebring word vir haar dade en dat geregtigheid vir me. Engels geskied.”

Soortgelyke plasings