|

AfriForum sluit sy deel in Ford Kuga-saak af

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het vandag aangekondig dat hy en sy span hulle aan die geregtelike ondersoek na die dood van Reshall Jimmy onttrek. Jimmy is in Desember 2015 oorlede nadat die Ford Kuga wat hy bestuur het aan die brand geslaan het. Nel het die ondersoek na Jimmy se dood namens die Jimmy-gesin gelei.

“Daar is passend met die belange van die gesin omgegaan en ons is tevrede dat die ondersoek op ’n wyse vorder wat reg sal laat geskied,” sê Andrew Leask, ondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Regter Robert Henney het aangedui dat hy nóg getuienis wil aanhoor, waarna hy die ondersoek sal afsluit om sy bevindinge te maak. Die regter het AfriForum bedank vir die hulp wat die span in dié saak aan die hof verleen het.

“Ons het hierdie saak aanvaar omdat ons onder meer ongegronde gerugte wou verkeerd bewys, en ons is nou daarvan oortuig dat die bewyse wat tot dusver aan die hof voorgehou is enige aanduidings weerlê dat die dood van die oorledene aan enige strafregtelike optrede, selfmoord of moord te wyte is – wat aanvanklik met die begin van die ondersoek gelug is,” sê  Leask.

Die Jimmy-gesin sal die verrigtinge wanneer moontlik bywoon, en Nel en sy span is beskikbaar om verdere hulp te verleen en verrigtinge formeel by te woon as dit vereis sou word.

Soortgelyke plasings