|

AfriForum sluit 2018 met hoop af

Die laaste uitgawe van 2018 se Forum, AfriForum se ledetydskrif, is in die pos of reeds by van ons lede se huise afgelewer.

2018 sal onthou word as ’n jaar waarin enorme eise en uitdagings aan individue en organisasies soos ons s’n gestel is.

Daar het baie dinge op politieke, maatskaplike en ekonomiese gebied gebeur wat ons noop en dwing om vernuwend te dink én introspeksie te doen.

In die afgelope jaar het AfriForum veral hard geveg teen onteiening sonder vergoeding, korrupsie, verval en agteruitgang op plaaslike regeringsvlak en die behoud van ons taal, kultuur en erfenis. Ons veldtogte vir die bewusmaking van plaasmoorde en –aanvalle is plaaslik en internasionaal verskerp en het reeds vrugte begin afwerp met die wêreld wat kennis neem van dié krisis en die Suid-Afrikaanse regering se houding daaroor.

As burgerregte-organisasie het ons alles in die stryd gewerp om vir minderhede se regte op te staan en volgende jaar sal hierdie stryd in alle ywer voortgesit word. As daar nou een ding is wat ons vanjaar besef het, is dit die krag wat daar in harde werk en saamstaan is. Dit is duidelik dat minderhede, spesifiek Afrikaners, toenemende onder groter druk sal wees, wat van ons elkeen gaan vra om meer betrokke te raak en deel van ’n groep te wees wat saam na volhoubare oplossings soek. Ons het talle suksesse met ons 120 buurtwagte en meer as 130 takke landwyd behaal, maar baie meer moet en kan gedoen word as ons kragte saamsnoer. In die jaar wat kom, gaan onder meer nog groter prioriteit aan veiligheid van gemeenskappe gegee word.

Benewens die suksesse waaroor in die uitgawe van Forum gelees kan word, is daar ook inspirerende verhale soos die van Mariandra Heunis en Nico Henning, wat ondanks verlies en terugslae, besluit het om in hoop te leef. Heunis het haar man, Johann, twee jaar gelede in ’n plaasaanval verloor en is nou enkelma vir hul vier kinders. Henning, ’n buurtwaglid van AfriForum, is tydens ’n gewapende rooftog geskiet en moes ’n langpad na herstel begin. Ons salueer hulle.

Johan Vorster, bekende sanger, liedjieskrywer en vervaardiger, wat die gewilde musiekvideo en CD, “Die Gelofte” in opdrag van AfriForum vervaardig het, het ons ook agter die skerms toegelaat om te sien hoe produkte geskep word wat ons vir nou en die toekoms hoop kan gee.

AfriForum is ook vanjaar betrokke by die In Afrikaans-konsertreeks wat Inhoud Huis Musiek aanbied en waarby Vorster betrokke is. Dit word van 21 – 20 Desember in Hartenbos aangebied en beloof om ’n onvergeetlike ervaring te wees.

Forum wens almal ’n geseënd Kersfees en voorspoedige 2019 toe. Die volgende uitgawe sal in Maart 2019 beskikbaar wees. Vir meer nuusberigte en inligting oor AfriForum, besoek www.forumnuus.co.za

Soortgelyke plasings