|

AfriForum sluit 2017 se suksesvolle Maand van Selfstandigheid af

“Gemeenskappe is besig om te besef dat hulle nie uitgelewer is aan ’n onbevoegde regering nie. Ons bevorder gemeenskapselfstandigheid deur selfdoenprojekte, en dít stuur ’n kragtige boodskap van hoop uit.”

Só meen Johan Weber, streekshoof van AfriForum se noordelike provinsies, nadat die burgerregte-organisasie se Maand van Selfstandigheid-veldtog vir 2017, wat op Paul Kruger se verjaardag op 10 Oktober afgeskop het, vandeesweek suksesvol ten einde geloop het.

Een van die projekte waarmee die veldtog afgesluit is, is die herstel van slaggate in Proklamasieheuwel deur die plaaslike AfriForum-tak in Pretoria-Wes.

Tydens vanjaar se veldtog het talle AfriForum-gemeenskapstrukture regoor die land skouer aan die wiel gesit om tot skoner en veiliger dorpe en stede by te dra. Altesame 63 selfdoenprojekte is aangepak en voltooi.

Volgens Weber het die aksies wat aangepak is ten doel om leemtes in munisipale dienslewering te vul en om gemeenskappe te organiseer om self in te spring en hul omgewing te verbeter.

Hy noem ook dat hoewel daar vanuit sekere oorde die gevoel kan bestaan dat AfriForum bloot besig is om die regering se werk te doen terwyl regeringsamptenare agteroor sit en lag, AfriForum inderdaad besig is om dienslewering te privatiseer en dat alle projekte deur die organisasie se lede befonds word, wie se donasies van hul belastingopgawes aftrekbaar is

AfriForum se Maand van Selfstandigheid is sedert 2015 ’n jaarlikse instelling wat fokus op die skoonmaak en instandhouding van dorpe en stede. Van die aksies wat vanjaar plaasgevind het, sluit in:

  • Die skoonmaak van die Heldeakker-begraafplaas in Pretoria.
  • Die AfriForum-tak in Vryburg het die geskiedkundige Groot Trek Monument beveilig deur ’n veiligheidsmuur om dit te bou.
  • Die AfriForum-tak in Ellisras het tesame met die gemeenskap die parkie in Peerboomstraat skoongemaak en opgeknap, waartydens rommel opgetel is; klimrame en strukture geverf en reggemaak is; en besproeiing en watertoevoer tot die parkie herstel is.
  • AfriForum se Potchefstroom-tak het in totaal 106 slaggate herstel. Dié tak is welbekend vir sy slaggatprojek en het vanjaar reeds meer as 2 000 slaggate in dié dorp herstel.
  • AfriForum se Pretoria-Oos-tak het saam met die Garslink-gemeenskapspolisiëringsforum, polisiereserviste, verskeie privaat sekuriteitsmaatskappye (insluitend Chubb, Bull Security, ADT, Accon Security en High Risk Security) en gemeenskapslede die gebied rondom die Moreletaspruit skoongemaak.
  • AfriForum-takke in Delareyville en Standerton het hul dorpe beveilig deur verlore en moeilik sigbare stoptekens te vervang.
  • Die Witrivier-buurtwag het in samewerking met Full Circle Security gehelp om die heining van die plaaslike polisiestasie weer op te rig.
  • AfriForum se Meyerspark-buurtwag het ’n suksesvolle patrollie voltooi wat ook ’n skoonmaakaksie ingesluit het.
  • AfriForum se Hesseque-tak het ’n skoonmaakaksie in Stilbaai gehou in samewerking met die plaaslike munisipaliteit.
  • AfriForum se Margate-tak het ook in samewerking met die Ray Nkonyeni-munisipaliteit slaggate herstel.
  • AfriForum se Moot-tak in Pretoria het ongeveer 15 bome geplant.
  • Die AfriForum-tak in Paulpietersburg het ’n padveiligheidsaksie geloods waartydens verskeie stoptekens in samewerking met die eDumbe Plaaslike Munisipaliteit vervang is.
  • AfriForum se Phalaborwa- en Sasolburg-tak het ook suksesvolle plaaslike skoonmaakaksies gehad.

Soortgelyke plasings