| |

AfriForum skryf aan munisipaliteit en Rand Water oor waterprobleme in Sundra

AfriForum het op 19 Maart 2020 ’n skrywe aan die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit en Rand Water se bestuurder gerig ná die organisasie op 17 Maart klagtes ontvang het oor waterprobleme in die Sundra-gebied.

Inwoners van dié gebied sukkel al vir meer as ’n jaar met waterprobleme, veral sedert Rand Water die munisipaliteit se waterdruk verlaag het. Inwoners het die probleme al verskeie kere by die munisipaliteit aangemeld. Terwyl die COVID-19-pandemie wêreldwyd krisisafmetings begin aanneem het, is AfriForum genoodsaak om ’n skrywe te rig om ’n middeweg tussen die munisipaliteit en Rand Water te vind.

“Rand Water moet die waterdruk verhoog sodat die gemeenskap van Sundra voldoende toegang tot water kan kry en gemeenskapslede meer higiënies kan lewe,” sê Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

“Die waterdruk is só swak dat ’n mens nie kan stort of twee krane gelyktydig kan oopdraai nie. Die watertoevoer word ook dikwels afgesny weens die munisipaliteit se wanbetalings aan Rand Water. Hierdie is slegs van die klagtes wat onder ons aandag gebring is,” sê Pretorius.

 

“AfriForum het vandag ’n skrywe aan sowel die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit as Rand Water se bestuurder gerig wat beide dié partye oor die probleme in kennis stel. Die skrywe lê ook weer klem op die gevaar van watertekorte tydens die COVID-19-uitbraak in Suid-Afrika, wat as ’n nasionale ramp verklaar is. Een van die opdragte wat pres. Ramaphosa ten opsigte van die ramp aangekondig het, is dat water verskaf moet word aan gemeenskappe wat ’n tekort het,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se hoof van omgewingsake.

Soortgelyke plasings