--> -->
Spyskaart +

AfriForum skop veldtog af om droogtehulp te voorsien

Januarie 7, 2016 deur Mariska Batt

AfriForum het vandag ʼn veldtog van stapel gestuur waarmee dié burgerregte-organisasie droogtegeteisterde gebiede van hulp gaan voorsien. AfriForum gaan vir die volgende weke lede van die publiek op nasionale vlak aanmoedig om R10 by te dra, waarna AfriForum die bedrae op ʼn rand-tot-rand-basis sal verdubbel. ’n SMS-diens is vir hierdie doel geskep waardeur die publiek hul bydraes kan maak.

“Suid-Afrika word deur ’n ernstige droogte geteister. Boere kry ontsettend swaar en sekere dorpe het op dié stadium geen drinkwater nie. Ons kan nie anders as om ook in te spring en te help nie,” sê Henk Maree, nasionale woordvoerder van AfriForum.

AfriForum is van voorneme om ná afloop van die veldtog boere wat ’n ernstige tekort aan weiding ondervind in samewerking met landbou-organisasies soos TLU Suid-Afrika by te staan, asook om dorpe wat waterskaarste beleef, te ondersteun om die swaarkry te verlig.

“Ons moedig alle lede van die publiek aan om hul name na 38312 te SMS om R10 tot die fonds by te dra. Elke R10-SMS gaan R20 se bydrae tot die droogtefonds verseker,” het Maree afgesluit.