AfriForum skop sy jaarlikse nasionale vullisterreinouditprojek af


AfriForum het vandag sy nasionale vullisterreinouditprojek vir 2019 afgeskop. Dit behels die oudit van vullisterreine regoor Suid-Afrika waar AfriForum gevestigde strukture het. Die oudits word gedoen aan die hand van die minimum vereistes waaraan vullisterreine volgens wetgewing moet voldoen.
AfriForum het in 2014 sy eerste vullisterreinouditprojek van stapel gestuur om rekord te hou van die wyse waarop vullisterreine in Suid-Afrika bestuur word, asook om die betrokke owerhede tot verantwoording te roep in die geval waar vullisterreine swak bestuur word.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se projekkoördineerder vir omgewingsake, het AfriForum reeds sukses behaal na afloop van só ’n jaarlikse vullisterreinouditprojek. “’n Goeie voorbeeld van ’n suksesverhaal is die Hatherley-vullisterrein in Pretoria wat vanaf 36%-voldoening in 2016 verbeter het tot ’n 80%-voldoening in 2018. Dié verbetering kan toegeskryf word aan die goeie samewerking met die departement van omgewingsake en volhoubare druk wat toegepas is. AfriForum sal voortdurend druk uitoefen op munisipaliteite en owerhede wat nie korrekte vullisbestuur toepas nie.”
AfriForum moedig ook gemeenskappe aan om druk op owerhede te plaas om goeie vullisterreinbestuur toe te pas. “Gemeenskappe betaal belasting wat onder meer aangewend moet word vir die instandhouding en effektiewe, veilige bestuur van vullisterreine. Munisipaliteite wat nie hierdie plig nakom nie, moet deur hulle plaaslike gemeenskap verantwoordelik gehou word om vullisbestuur reg te ruk,” sê Grobbelaar.

Toepaslike wetgewing en regulasies, onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis, 2008 (wetno. 59 van 2008) bepaal dat ’n vullisterrein aan vasgestelde vereistes moet voldoen. Faktore waarna gekyk word sluit toegangsbeheer, onwettige storting, brandregulasies, omheining én rehabilitasie in. Ook mag geen mediese afval op enige vullisterrein wees wat as algemene terrein geklassifiseer word nie. Volgens Grobbelaar het AfriForum die vereistes in 33 vrae verwerk wat gebruik sal word om die vullisterreinoudit uit te voer.

AfriForum gaan in die volgende vier weke poog om 120 vullisterreine te oudit in dié gebiede waar daar gevestigde AfriForum-takke is. Die uitslae gaan dan in ’n verslag opgeneem word en aan Nomvula Mokonyane, minister van omgewingsake, oorhandig word. “Ons is dankbaar vir die departement van omgewingsake se samewerking in hierdie verband en dat die departement se provinsiale afvalbestuursbeamptes beskikbaar gestel is om ons te help met die oudits,” sluit Grobbelaar af.

In 2018 het slegs 33 van die 114 vullisterreine wat geoudit is aan die minimum vereistes voldoen.
Ondersteun AfriForum se vullisterreinouditprojek: SMS die naam van jou dorp na 45354 (R1).

Soortgelyke plasings