|

AfriForum skop sy jaarlikse nasionale vullisterreinoudit op ʼn positiewe noot af

AfriForum het vandeesweek sy nasionale vullisterreinouditprojek afgeskop deur ʼn wisseltrofee aan die plaaslike vullisterrein in Tzaneen te oorhandig vir die beste munisipale vullisterrein vir 2016/2017.

Dié munisipaliteit het in 2016 én vanjaar AfriForum se oudit met lof geslaag te danke aan goeie kompaktering, innoverende bestuur, ʼn grootskaalse komposprojek en die herwinning van sowat 200 ton vullis elke maand, waardeur hul jaarliks R7 miljoen se onkostes kan bespaar.

Howel die vullisterrein reeds in 2010 gesluit moes word, is sy leeftyd ook met nog 20 jaar verleng.

“Volgens toepaslike wetgewing en regulasies, onder meer die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur: Vullis (Wet no. 59 van 2008), moet ’n vullisterrein aan bepaalde vereistes voldoen. Dit sluit faktore soos toegangsbeheer, onwettige storting, brandregulasies, omheining en rehabilitasie in. Verder mag geen mediese afval op enige vullisterrein wees wat as algemene terrein geklassifiseer word nie. AfriForum het dié vereistes in 33 vrae verwerk en gebruik dan dié vrae om die vullisterreinoudit te doen,” sê Chris Boshoff, projekkoördineerder by AfriForum.

AfriForum gaan in die volgende twee weke vullisterreine in dié areas oudit waar daar gevestigde AfriForum-takke is. Die uitslae gaan dan in ’n verslag opgeneem word en aan Edna Molewa, minister van omgewingsake, oorhandig word. “Ons is dankbaar vir die departement van omgewingsake se samewerking in hierdie verband en dat die departement se provinsiale afvalbestuursbeamptes vir ons oudits beskikbaar gestel is,” sê Boshoff.

 

Soortgelyke plasings