AfriForum skop sy #AnkerdorpPadskou in Centurion af


AfriForum het op 25 Februarie 2019 sy #AnkerdorpPadskou in Bothalaan, Centurion afgeskop waartydens die organisasie se personeel én gemeenskapslede dié straat skoongemaak het deur vullis op te tel. Nagenoeg 150 sakke vullis is uiteindelik verwyder.

Op dié dag het verskeie kleiner aksies ook in Centurion plaasgevind, soos die AfriForum-teenboelieveldtog en ’n aktivistiese aksie by die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming.
Die teenboeliegesprek met Laerskool Pierneef en Laerskool Tuine was veral noodsaaklik nadat daar verlede week berig is oor ’n 13-jarige meisie van Pretoria-Noord wat haar eie lewe geneem het nadat sy glo op WhatsApp geboelie is. Die doel van dié gesprek was om leerders bewus te maak van wat afknouery werklik is en wat gedoen moet word om afknouery in skole hok te slaan. AfriForum wil hoop skep sodat ons land se kinders vry, veilig en voorspoedig kan skoolgaan.

“AfriForum se handelsmerk binne Pretoria bevestig die ankerstrategie van die Solidariteit Beweging vir 2019 – #SkepHoop. Hierdie is die eerste van vele aksies deur die loop van die week waarmee AfriForum beplan om die stad oranje te verf. As jy ons opmerk, knoop gerus ’n geselsie aan oor wat ons nog alles beplan,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se projekkoördineerder vir omgewingsake.

AfriForum moedig gemeenskapslede aan om betrokke te raak by inisiatiewe wat na hulle behoeftes omsien. Vir meer inligting oor die #AnkerdorpPadskou, besoek gerus die webtuiste www.ankerdorp.co.za.

Soortgelyke plasings