AfriForum-skoonmaakprojek in Standerton maak mooi


Die eerste fase van ’n skoonmaakprojek deur die AfriForum-tak op Standerton het onlangs afgeskop met die skoonmaak en opknapping van die Lombaardstraatbegraafplaas in dié dorp.
Dié fase – wat die sny van gras behels het – is deur ’n plaaslike kontrakteur behartig. Daar word nou beplan om tussen die grafte skoon te maak.

“Die Lombaardstraatbegraafplaas kort dringende aandag omdat dit aan die hoofstraat van die dorp grens en ’n seer oog vir die gemeenskap is. Die Lekwa-munisipaliteit doen geen instandhouding meer nie. Dis egter vir AfriForum belangrik om ons gemeenskapsomgewing te verbeter en te onderhou. Daarom het ons besluit om self in te spring,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes.
“Ons beplan om die begraafplaas in blokke op te deel, met borde wat aandui wie vir die skoonmaak van elke spesifieke area verantwoordelik is. Ons wil die publiek en plaaslike besighede op dié wyse aanmoedig om by hierdie projek betrokke te raak,” sê Leon Enslin, AfriForum se Standerton-takvoorsitter.
“Ons moet as ’n gemeenskap saamstaan om ons dorp skoon en netjies te hou. Dorpe wat verval, lei daartoe dat gemeenskappe inkomste en beleggers verloor en na ander dorpe verhuis – iets wat ons nie in ons dorp kan bekostig nie. Saam kan ons egter ’n verskil maak,” voeg Coetzer by.

Lede van die publiek wat by die projek wil betrokke raak, kan hom by 072 947 2100 skakel.
AfriForum wil elke instansie wat by gemeenskapsinisiatiewe wat in dié dorp betrokke is, hetsy met beveiliging of instandhouding, vir hulle tyd en moeite bedank.
Ondersteun AfriForum se skoonmaakprojekte in Standerton en in ander areas binne die Lekwa-munisipaliteitsgrense deur “Skoonmaak” na 45350 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings