AfriForum skep regsfonds om munisipaliteite en Nersa verantwoordbaar te hou vir Eskom-skuld


Die burgerregte-organisasie AfriForum maak vandag sy uitgebreide strategie bekend rakende die meer as R10,2 miljard se Eskom-skuld wat onskuldige Suid-Afrikaanse burgers benadeel.
AfriForum volg ’n tweeledige strategie, waarvan die eerste gemeenskapsmobilisering insluit deur die aanmoediging van landswye protes, asook die rig van petisies aan elke munisipale raad se speaker. Die tweede is ’n regstrategie waarby die burgerregtewaghond meer druk op Nersa plaas om sy verpligtinge kragtens wetgewing uit te voer, wat insluit dat munisipale lisensies teruggetrek word. Howe sal ook genader word ten opsigte van die beskerming van die publiek se grondwetlike regte.
Hiervoor skep AfriForum ’n regsfonds waarby gewone landsburgers ook hulle bydrae kan lewer om ’n verskil te maak en munisipale amptenare tot verantwoordbaarheid roep. AfriForum het reeds byna R1 miljoen spandeer aan die regstryd en gaan afhanklik wees van elke Suid-Afrikaner se hulp om hierdie stryd verder te kan voer.
Volgens Marcus Pawson, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake, het Lynne Brown, minister van openbare ondernemings, Eskom tot só ’n mate oorreed dat die afsny van elektrisiteitstoevoer tot en met 31 Januarie 2017 gestaak is omdat dit ’n ekonomiese ramp vir kleiner dorpies sou inhou indien hulle elektrisiteit afgesny word. Pravin Gordhan, minister van finansies, het verder ook ’n sterk boodskap aan munisipaliteite gestuur om hulle diensterekeninge te betaal en simpatiseer met landsburgers wat sonder elektrisiteitstoevoer gelaat word.
Lede van die publiek kan AfriForum help om die regering tot verantwoording te roep: SMS “Eskom” na 38310 en skenk sodoende R10 tot die regsfonds. Alternatiewelik kan ’n direkte finansiële bydrae in die volgende bankrekening inbetaal word:
Bankrekeningnaam:   Afrikaanse Forum vir Burgerregte
Bank:                           FNB
Rekeningnommer:      62349898398
Tipe rekening:             Lopende rekening
Taknaam:                    Centurion
Takkode:                     261550
Verwysing:                  Eskom-regsfonds
’n Artikel 18 A-kwitansie kan uitgereik word indien só verlang.

Soortgelyke plasings