AfriForum skep hoop in Meyerton tydens boomplantmaand


Riversdale se park in Wyk 13 is vyf bome ryker ná die AfriForum-tak in Meyerton dit as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantmaandprojek geplant het.

Volgens Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Vaaldriehoek en Wes-Rand, beoog die organisasie om vanjaar meer as 2 000 bome landwyd te plant. “Bome verskaf noodsaaklike natuurlike hulpbronne en skaduwee, en dra ook tot ’n mooier omgewing by. Daarom is bome nie slegs ’n belangrike deel van die ekostelsel nie, maar ook deel van ons erfenis,” sê Ungerer.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n algemene as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum moedig sy takke aan om inheemse bome te plant wat maklik in hul natuurlike omgewings aard.

“Boomplantmaand skep die ideale platform om ’n ewigdurende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het wel deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Meyerton, in samewerking met Pastoor Jan van der Walt van die AGS-kerk, onderneem ons om self hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons as AfriForum hier is om te bly en opregte hoop vir die toekoms het,” meen Ungerer.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n groener toekoms.

Soortgelyke plasings