AfriForum skep hoop in Fochville tydens boomplantmaand


Die AfriForum tak in Fochville het 16 inheemse bome geskenk as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantmaandprojek. Laerskool Losberg, Laeskool Fochville, Fochville Primary School en Hoërskool Fochville het elk vier bome ontvang.

Volgens Stephen Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir die sentraal streek, beoog die organisasie om vanjaar meer as 2 000 bome landwyd te plant. “Bome vorm ‘n belangrike deel van ons ekostelsels en daarom beskou ons die plant van nuwe bome as ‘n groot bydrae tot ons erfenis.”

AfriForum fokus jaarliks op ’n algemene sowel as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum moedig sy takke aan om inheemse bome te plant wat maklik in hul natuurlike omgewings aard.

“Boomplantmaand skep die ideale geleentheid vir ons as ‘n gemeenskap om ons natuur te versorg en te bewaar. Met die skenk van hierdie bome wil ons die leerders touwys maak oor die belangrike rol wat bome in ons omgewing te vervul” meen Nel.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n groener toekoms.

Soortgelyke plasings