AfriForum skep fonds om plaasaanvalslagoffers te ondersteun

Die burgerregtewaghond AfriForum het vandag aangekondig dat hulle ’n fonds geskep het om spesifiek geldelike hulp aan slagoffers van plaasaanvalle te bied. “Ons moet alles in ons vermoë doen om seker te maak dat hul menswaardigheid behou word, ons moet elke plaasaanvalslagoffer se storie onthou en vertel,” sê Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid.
Cameron meen dat mense nie altyd besef wat die impak van ’n plaasaanval op dié persone is wat daardeur geraak word nie. “Dit is nie net traumaties nie, maar dit steel ook integrale dele van plaasaanvalslagoffers se menswaardigheid. Talle slagoffers is reeds behoeftig en het dikwels geen ander heenkome as die plek waar hulle aangeval is nie – hulle kyk dus voortdurend vas in die toneel waar hul donkerste nagmerrie plaasgevind het,” sê Cameron.

AfriForum se 911-trauma-eenheid verskaf nie net kos aan behoeftige slagoffers nie, maar help ook met basiese mediese uitdagings, klere, hofbystand, die afneem van verklarings en, in sekere gevalle, die nodige sielkundige ondersteuning. AfriForum help ook in samewerking met Crime Scene Clean Up om seker te maak dat die huis waarin ’n plaasaanval plaasgevind het met die regte chemikalieë skoongemaak word.
Indien jy by dié eenheid wil betrokke raak, stuur ’n e-pos na trauma@afriforum.co.za.  Skenkings vir die fonds kan in die volgende rekening betaal word:
Bank:                            FNB
Rekeningnaam:          AfriForum NPC
Rekeningnommer:     62349898398
Tak:                               Centurion
Takkode:                      261-550

Soortgelyke plasings