| | |

AfriForum skenk nartjies aan bejaardes van Kaap Agulhas

Die burgerregteorganisasie AfriForum het sy Wes-Kaapse immuunstelsel-inisiatief op 10 en 11 Junie 2020 na Kaap Agulhas uitgebrei deur nartjies aan verskeie ouetehuise en aftreeoorde te skenk. Dít volg nadat die organisasie hierdie inisiatief in Mei in die Kaapse Metropool van stapel gestuur het.

Daar is veral gefokus op ouetehuise, afreeoorde, asook ander sentrums en instansies in Napier en Bredasdorp wat na bejaardes omsien. Nartjies is onder meer aan Huis Klippedrif in Napier, asook Suideroord en die Tuisversorgingseenheid in Bredasdorp geskenk.

“Met hierdie inisiatief, wat moontlik gemaak is deur ruim skenkings wat vanuit die Langeberg-distrik ontvang is, het ons reeds meer as 6 000 bejaardes bereik. Ons het besluit om op bejaardes te fokus, aangesien hulle die kwesbaarste persone is om COVID-19 op te doen en moeilik van die virus herstel,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Vorige skenkings is aan bejaardes in Swellendam, die Kaapse Metropool, die Suid-Kaap, die Klein Karoo en die Overstrand uitgedeel.

AfriForum beplan om hierdie inisiatief binne sy beskikbare middele na ander voorstede in die metropool, asook ander dorpe in die provinsie uit te brei. Stuur ’n e-pos na arno.greyling@afriforum.co.za om by hierdie projek betrokke te raak.

Soortgelyke plasings