| | |

AfriForum skenk kospakkies aan mense in nood

AfriForum se Overstrand-tak het op 22 Mei 2020 22 kospakkies aan die plaaslike Solidariteit Helpende Hand-tak geskenk om gemeenskapslede in nood te help. Dié pakkies bevat niebederfbare kos en skoonmaakmiddels en elke pakkie kan ’n gesin van vier vir ’n maand voed.

Dié skenking is moontlik gemaak deur fondse vanuit die Overstrand-tak se taknoodfonds, wat danksy donasies van inwoners help om die gevolge van die pandemie te oorbrug. Die tak gaan Solidariteit Helpende Hand ook help om die pakkies na behoeftige mense te versprei.

“Die Overstrand se plaaslike ekonomie is grotendeels afhanklik van die toerismebedryf. Baie ondernemings is tans weens die inperking gesluit en inwoners het oornag hul inkomste verloor. Dit is vir ons as AfriForum-tak belangrik om ’n verskil te maak en uit te reik na mense in ons gemeenskap,” sê Cuan Elgin, voorsitter van AfriForum se Overstrand-tak.

“Dit is lekker om in hierdie tyd hande te vat en mense in nood by te staan en uiteindelik mense te help om weer op hul voete te kom. Ons bedank elkeen wat betrokke is en ’n bydrae gemaak het tot die suksesvolle afloop van die projek,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Dra vandag nog tot dié tak se taknoodfonds by – jy kan help om ’n verskil in jou gemeenskap te maak: SMS “Overstrand” na 45265 (R1).

Soortgelyke plasings