| |

AfriForum se Zeerust-tak skenk kospakkies aan behoeftiges

AfriForum se Zeerust-tak het in April 2020 ongeveer 300 behoeftige gesinne in Zeerust – onder meer inwoners van die Uitkoms-woonstelle – van kospakkies voorsien. Elke pakkie verskaf een week se noodsaaklike voedsel aan ’n gesin.

“Die mense in Zeerust kry swaar en die nood word net ál groter. AfriForum werk hard om voedsel na behoeftige gesinne te versprei en sal voortgaan om sover moontlik in te gryp. Ons maak hoofsaaklik staat op skenkings vanuit die gemeenskap en is baie dankbaar vir die mense wat hul harte oopgemaak het vir gesinne in nood,” sê die bestuur van AfriForum se Zeerust-tak.

“Dit is merkwaardig om te sien hoe die gemeenskap in Zeerust saamstaan om hierdie krisis die hoof te bied. AfriForum se Zeerust-takbestuur en -buurtwag werk baie hard om voedsel na behoeftiges in die omgewing te versprei. Ons is baie dankbaar vir al die skenkings wat tot dusver ontvang is en vir die harde werk wat ons strukture in Zeerust doen,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

Die tak doen ’n beroep op sowel lede as die algemene publiek om verdere skenkings aan die taknoodfonds (SMS NOOD na 32782) te maak of om hulle met skenkings van voedsel en noodsaaklike produkte te ondersteun.

Soortgelyke plasings