AfriForum se Worcester-tak skep hoop tydens boomplantmaand

 

Die AfriForum-tak in Worcester het deur die loop van September 17 bome geplant en geskenk as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantmaandprojek.

Volgens Deon de Jager, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, beoog die organisasie om vanjaar landwyd meer as 2 000 bome te plant. “Deur inheemse bome te plant is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar en dit ’n mooier plek te maak om in te bly nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Bome is veel meer as net ’n belangrike deel van die ekostelsel of ’n natuurlike hulpbron waarsonder niemand sal kan oorleef nie – dit is ook deel van ons erfenis.”

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum moedig sy takke aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Vir Worcester het ons inheemse bome gekies wat goed in die gebied aard en het op die waterpeer (Syzygium guineense) besluit. Die tak het ook 12 spekbome (Portulacaria afra) aan die Nuwerus Ouetehuis, De Tuinen Primêre Skool en Esselen Primêre Skool geskenk omdat spekbome uiters voordelig vir die omgewing is. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Worcester onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” meen Andries Lingerfelder, voorsitter van die omgewingsakeportefeulje van die AfriForum-tak in Worcester.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n beter en groener toekoms.

Soortgelyke plasings