|

AfriForum se Witrivier-buurtwag staan gekaapte toeriste by

Die AfriForum-buurtwag in Witrivier het op 21 Januarie 2020 drie Brasiliaanse toeriste bygestaan wat deel geword het van Suid-Afrika se misdaadstatistiek.

Die drie toeriste was met vakansie en het op die R538 tussen Witrivier en Hazyview gery toe die voorval plaasgevind het. Hulle huurmotor is deur ’n onbekende voertuig van die pad gedwing, waarna twee gewapende rowers – geklee in SAPD-glimbaadjies – die motor bestorm en die toeriste agter in die motor in forseer het. Die rowers het die toeriste daarna gedwing om hul bankkaarte en pinnommers te oorhandig, asook al hulle waardevolle besittings.

Die toeriste is op die Spioenkoppad gestrand gelaat en het te voet by een van AfriForum se Witrivier-buurtwaglede opgedaag. Die buurtwag is onmiddellik van die voorval in kennis gestel, maar ’n soektog na die rowers het slegs die toeriste se verlate huurmotor opgelewer.

“Die toeriste was erg getraumatiseerd en ons het gehelp om hulle rustig en gemaklik te maak. Ons het hulle selfs gehelp om oproepe na die buiteland te maak om hulle naasbestaandes in kennis te stel, asook om hulle bankkaarte te probeer stop,” sê Dawie Ruthven, ’n lid van AfriForum se Witrivier-buurtwag.

 

“Dié voorval volg kort nadat ons waarskuwings aan toerismebestemmings uitgereik het om te verseker dat hulle mense waarsku om nie in die aande te ry nie en om te alle tye paraat op te tree. Verskeie soortgelyke voorvalle is die afgelope 30 dae aangemeld,” sê Johan Pelser, voorsitter van AfriForum se Witrivier-buurtwag.

Sluit vandag nog by AfriForum se Witrivier-buurtwag aan: SMS “Witrivier” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings