AfriForum se Witrivier-buurtwag neem aan teenmisdaadaksie deel


Die AfriForum-buurtwag in Witrivier het in samewerking met die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en die SAPD ’n massapatrollie op Vrydagaand, 3 November 2017 uitgevoer met die oog op misdaadbekamping ter voorbereiding van die komende feesseisoen.
Verdagte voertuie is vir onwettige middels deursoek en persone is aangekeer wat hulself aan openbare dronkenskap skuldig gemaak het. Daar is ook op daggaplante beslag gelê en die verdagtes is in dié verband aangekeer en gearresteer.
Buurtwaglede moes ook ’n aangerande persoon met eerstehulp bystaan totdat mediese personeel van Nelspruit die pasiënt na ’n hospitaal kon vervoer. Die slagoffer het hoofbeserings opgedoen en sy geheue was ook aangetas.

“Ons is bevoorreg om mense op verskeie maniere met aksies soos hierdie te kan help,” sê Johan Pelser, ’n lid van AfriForum se Witrivier-buurtwag. “Ons doen gereelde patrollies sodat ons sigbaar kan wees en misdadigers kan afskrik. Só help ons om die dorp te beveilig. Ons moedig mense aan om by die plaaslike AfriForum-buurtwag en -tak betrokke te raak en op dié wyse ook hul deel te doen.”

Soortgelyke plasings