AfriForum se Westonaria-tak maak plan met rommel


Die AfriForum-tak in Westonaria het op 13 September sy Drom jou Rommel-projek geloods as antwoord op onlangse swak besluite deur die Westonaria Plaaslike Munisipaliteit.

“Die Westonaria Plaaslike Munisipaliteit se besluit om die Libanon-vullisterrein oor naweke te sluit omdat die terrein reeds oorvol is, het ons as die Westonaria-tak van AfriForum aangemoedig om die Drom jou Rommel-projek te loods. Ons beoog om tydens die projek vullishouers op strategiese plekke in die dorp aan te bring en sodoende die vullisprobleem in Westonaria aktief aan te pak,” sê Esther Swart, voorsitter van AfriForum se Westonaria-tak.

Dié projek is egter slegs ’n tydelike oplossing en die Westonaria-takbestuur versoek die gemeenskap om AfriForum tydens soortgelyke projekte te ondersteun om die omgewing sodoende skoon te hou.

“Ons hele dorp lyk tans soos ’n vullisterrein weens die amptelike terrein wat steeds nie volgens standaard bestuur word nie en ook nie voldoende finansiering ontvang nie. Oor die afgelope drie jaar was daar nog geen diensverskaffer wat bereid was om aandag aan die terrein te gee teen die bedrag wat deur die munisipaliteit aangebied word nie. Tenders word tevergeefs aangebied, waarvan die mees onlangse rondte reeds teen 20 September sluit. Intussen moet daar steeds ’n poging aangewend word om hierdie haglike omstandighede te verbeter en daarom het ons as tak besluit om hierdie projek vir die volgende drie maande van stapel te stuur,” sluit Swart af.

Vullishouers gaan op die volgende plekke aangebring word:

  • H.v. Edelweiss- en Diasstraat, Westonaria;
  • H.v. West- en Creswellstraat (aan die begraafplaaspad se kant), Westonaria; en
  • H.v. Main- en Van der Bijl-straat, Venterspos.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Westonaria” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings