AfriForum se Welkom-tak plaas Matjhabeng Munisipaliteit op terme


AfriForum se Welkom-tak het die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit op terme geplaas oor die swak bestuur en agteruitgang van dié gebied se vullisterreine. Geen van dié munisipaliteit se vullisterreine voldoen aan die nodige wetlike vereistes nie.

Johan Terblanche, voorsitter van die Welkom-tak, en Marinna Hamilton het op 8 Julie 2019 ’n skrywe aan die munisipaliteit oorhandig wat die munisipaliteit op terme plaas. Die skrywe verwys na die vullisterreine in Virginia, Bronville, Henneman en Odendaalsrus.

“Weens die swak toestand van die vullisterreine sien AfriForum geen ander uitweg as om die munisipaliteit op terme te plaas nie. Geen beheer word oor hierdie vullisterreine toegepas nie – vullis lê vir kilometers ver buite die terrein gestrooi en die terreine se verval is duidelik sigbaar,” sê Jp Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Hoogland.
“Swak bestuur van vullisterreine kan verskeie probleme soos gesondheidsrisiko’s en brandgevare inhou en daarom sal die Welkom-tak voortgaan om druk op die munisipaliteit te plaas om te verseker dat aandag aan hierdie terreine geskenk word,” sê Nel.

Die munisipaliteit moet binne twee weke aandag aan die vullisterreine gee en die toestand daarvan verbeter. Die Welkom-tak sal die vullisterreine se vordering deurlopend moniteer.
AfriForum se Welkom-tak nooi die gemeenskap uit om betrokke te raak by die organisasie se toekomstige projekte en aksies. Sluit by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS “Welkom” na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings