|

AfriForum se Welkom-tak dien strafregtelike klagtes in oor rou riool

Die AfriForum-tak in Welkom het op 21 Mei 2020 strafregtelike klagtes teen Zingisa Tindleni, munisipale bestuurder van die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit, ingedien oor rou riool in inwoners se erwe. Inwoners in die Doorns-, Lakeview- en St. Helena-woongebied het AfriForum genader met klagtes nadat die rou riool op sommige plekke die erwe oorspoel het.

Die organisasie het sedert Augustus 2019 reeds verskeie skrywes aan die munisipaliteit gerig oor rou riool in erwe. Die rou riool hou verskeie gesondheidsrisiko’s vir die inwoners in en dit vloei soms vir weke aaneen uit die mangate. Dit is op sommige plekke só erg dat die riool ondergronds van agter die motorhuis tot voor in die erf vloei, wat op die langtermyn skade aan die huis se infrastruktuur gaan rig. Inwoners is al raadop oor swak dienslewering en moet noodgedwonge maar met hierdie probleem saamleef.

AfriForum het verskeie kere daarop aangedring dat die munisipaliteit die probleme moet oplos en ’n plan voorlê om te verseker dat hierdie probleem volhoubaar opgelos word. Verskeie vergaderings is met die munisipaliteit versoek om saam te werk aan oplossings. Die munisipaliteit het egter tot op hede nog geen terugvoer verskaf op enige van AfriForum se skrywes of versoeke nie.

Skrywes is ook aan die Vrystaatse Departement van Omgewingsake gerig om dié probleem onder hul aandag te bring. AfriForum het wel terugvoer van dié Departement ontvang, maar die kwessie is steeds nie opgelos nie.

“Die rioolsituasie in Welkom is skokkend en om tydens die staat van inperking boonop nog rou riool in jou erf te hê, is uiters ondraaglik. Die riool vloei reg rondom die huise en is baie onhigiënies,” sê Johan Terblanche, voorsitter van AfriForum se Welkom-tak.

“Inwoners van hierdie woongebiede moet weekliks hierdie probleme in die gesig staar. Dit skep verskeie probleme en gesondheidsrisiko’s en dit is skokkend dat hulle in sulke omstandighede moet leef. AfriForum sal aanhou om druk op munisipaliteite te plaas om hul grondwetlike pligte teenoor gemeenskappe na te kom,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

“Munisipaliteite is tydens die inperking steeds verantwoordelik om hul pligte na te kom,” sê Nel verder.

AfriForum sal voortgaan om hierdie probleme onder die munisipaliteit se aandag te bring en sal aanhou om druk toe te pas totdat dit reggestel is.

AfriForum se Welkom-tak nooi die gemeenskap uit om by die organisasie se toekomstige projekte en aksies betrokke te raak. Sluit by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS “Welkom” na 31481 (R1).

Soortgelyke plasings