AfriForum se Waverley-tak pak verskeie projekte aan


Die AfriForum-tak in Waverley het in samewerking met die Moot-gemeenskapsinisiatief en ander rolspelers die afgelope maand ’n kragsubstasie beveilig, water getoets én verseker dat verskeie slaggate in dié woongebied opgevul word.
Die gebied rondom die kragsubstasie was bebos, wat gevolglik ’n veiligheidsrisiko ingehou het. Die gemeenskap het die gebied ontbos, kameras opgerig, deure en diefwering versterk, asook spreiligte opgerig. Die gemeenskap het die kameras geborg. Die tak het ook sout op die perseel gegooi ten einde die groei van onkruid te vertraag.
Die AfriForum-tak het ook verlede week water getoets om die gehalte van Waverley se drinkwater te bepaal.

“Ons kon vasstel dat drinkwater aan die minimum standaarde voldoen en geen skadelike bakterieë bevat nie. AfriForum sal die watergehalte deurlopend toets, aangesien inwoners ’n grondwetlike reg op skoon drinkwater het,” sê Tiaan Oosthuizen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Gauteng-Noord.
“Verskeie slaggate in Waverley is herstel weens goeie samewerking tussen die gemeenskap en die Tshwane-metro. Die tak wys die slaggate uit deur middel van bordjies wat langs die pad opgesit word. Dit neem die munisipaliteit ongeveer een tot twee weke om die slaggate te herstel,” sê Hendrik van der Westhuizen, voorsitter van AfriForum se Waverley-tak.
“Waverley is ’n uitstekende voorbeeld van hoe die hele gemeenskap verantwoordelikheid neem en saamwerk om vooruitgang in hul gemeenskap te verseker,” sluit Oosthuizen af.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Waverley” na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings