AfriForum se waterhofbevel werp vrugte af in Naboomspruit


Watertoevoer in Naboomspruit is besig om te verbeter nadat AfriForum ’n hofbevel in 2014 teen die Mookgophong Plaaslike Munisipaliteit in dié verband verkry het. Die munisipaliteit het onlangs vier nuwe pompe by die Frikkie Geyserdam geïnstalleer en twee boorgatpompe is op 20 Julie 2017 opgekoppel en beveilig om kabeldiefstal te verhoed.

“Kommunikasie vanaf die munisipaliteit het ook baie verbeter. Ons word gereeld vooraf ingelig van waterprobleme wat as gevolg van opgraderings sal plaasvind. Ons is ook bly om ’n verbetering te sien in terme van watertoevoer en die opknapping en herstel van toerusting,” sê Phillip van Staden, voorsitter van AfriForum se Naboomspruit-tak.
“Dit blyk dat die waterprobleme tot ’n einde begin kom. Tussen Januarie en Junie 2016 het die dorp vir meer as 1 200 ure nie ’n druppel water in die krane gehad nie. Sedert Junie 2016 het dit tot slegs 13 ure verminder,” sluit Van Staden af.

Soortgelyke plasings