AfriForum se Vryheid-tak bevorder gemeenskapsveiligheid


Die AfriForum-tak in Vryheid se veiligheidstrukture en die landbougemeenskap het gesamentlike beplanning gedoen om die veiligheid in hul gemeenskap te bevorder. Dit sluit goeie strukture, die verbetering van die kommunikasiestelsel en die voltooiing van landkaarte – wat ’n baie belangrike rol in gebiedsbeveiliging speel – in.

“Die Vryheid-tak se veiligheidsvermoë het onlangs geweldig goed ontwikkel en dit is vir ons ’n voorreg om die gemeenskap by te staan en sodoende gemeenskapsveiligheid te bevorder,” sê André van der Walt, voorsitter van AfriForum se Vryheid-tak.

Goeie vordering is ook met die stigting van ’n GOS (Gesamentlike Operasionele Sentrum) gemaak, wat nou by die AfriForum-gemeenskapsentrum gesetel is.

“Al die AfriForum-takke in KwaZulu-Natal het gedurende die jaar kaarte aangekoop om mekaar proaktief by te staan, veral tydens scenario’s in veiligheids- en plaaslikeregeringsaangeleenthede,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.

AfriForum beplan om in 2019 verskeie opleidingsdae aan te bied om die weerbaarheid van die gemeenskap te bevorder. Dié opleiding sal onder meer noodhulp-, teenkampings-, radiospraak-, hommeltuig- en regsaspekkursusse insluit.

“Ons nooi Vryheid se inwoners en die landbougemeenskappe uit om by ons aksies en opleiding betrokke te raak. Skakel ons gerus by 081 462 3221 vir meer inligting,” sê Gavin Minott, voorsitter van die veiligheidsportefeulje van AfriForum se Vryheid-tak.

Ondersteun AfriForum om jou gemeenskap se veiligheid te bevorder: SMS “Vryheid” na 45267 (R1).

Soortgelyke plasings