AfriForum se Vereeniging-tak sit skouer aan die wiel met opknappingswerk


Die AfriForum-tak in Vereeniging het in samewerking met DRC Labour Hire en Bambanani Tuindienste op 2 Februarie 2019 ’n opknappingsaksie in Langrandweg in dié stad geloods. Hierdie aksie is slegs die eerste van talle projekte wat die tak beplan om in 2019 aan te pak.

Bogenoemde aksie het uit twee dele bestaan – Bambanani Tuindienste het die sny en skoonmaak van die sypaadjies langs Langrandweg behartig, terwyl DRC Labour Hire slaggate in dié straat opgevul het.

“Plaaslike gemeenskapslede het ook by die slaggatprojek ingekoop. AfriForum se Vereeniging-tak het die teer verskaf en DRC Labour Hire het die arbeid en toerusting voorsien. Ons wil alle rolspelers bedank wat tot die sukses van hierdie aksie bygedra het. Daar lê krag in ’n gemeenskap wat hande vat en saamwerk en só ’n gemeenskap kan slegs van krag tot krag gaan,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Wes-Rand.
“Hierdie was die eerste van talle aksies wat ons as tak beoog om in 2019 aan te pak. Ons doen ’n beroep op die gemeenskap om hand by te sit en saam met ons aan ’n beter toekoms vir die gemeenskap van Vereeniging te werk,” sê Henk Goosen, voorsitter van AfriForum se Vereeniging-tak.

Raak vandag nog by AfriForum se Vereeniging-tak betrokke: Stuur ’n e-pos na dewet.ungerer@afriforum.co.za, besoek dié tak se Facebook-blad of SMS “Vereeniging” na 45342 (R1).

Soortgelyke plasings