| | |

AfriForum se Ventersdorp-tak help met verspreiding van kospakkies

Die AfriForum-tak in Ventersdorp is fluks besig om voedsel in samewerking met Solidariteit Helpende Hand, Klop (’n plaaslike gemeenskapsprojek) en gemeenskapslede te versprei. 60 gesinne is tot dusver van voedsel voorsien, wat op ongeveer 6 750 maaltye neerkom.

Die voedselnood neem geweldig toe en hierdie instansies probeer om waar moontlik voedsel te verskaf. Nagenoeg 1 000 km is oor ’n tydperk van vier weke afgelê om voedselskenkings op te laai en te versprei. Al die voedsel wat versprei is, is te danke aan skenkings en benewens kos is handreiniger, gesigmaskers en babaprodukte ook uitgedeel.

“Dit is ongelooflik hoe mense hul harte en hande oopmaak in tye van nood en daarvoor is ons baie dankbaar. Ons bedank ook al die instansies wat saamstaan om mense se nood te help verlig. Ons vermoed dat hierdie krisis vir geruime tyd sal voortduur en daarom wil ek mense aanmoedig om met idees vir werkskepping vorendag te kom sodat hierdie probleem volhoubaar opgelos kan word,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Skakel Orten van Jaarsveld by 076 952 3971 en word deel van hierdie inisiatief.

Soortgelyke plasings