AfriForum se Velddrif-tak belê in en bemagtig die jeug


Die AfriForum-tak in Velddrif het op 13 en 15 Junie 2019 verskeie aktiwiteite aangebied om die skoolgaande jeug van dié kusdorpie besig te hou, te vermaak en in te lig oor boelies.

Die tak het die Hoërskool Velddrif op 13 Junie besoek en leerders meer oor boelies geleer en hoe om dit te hanteer indien jy geboelie word.

“Hierdie boodskap het baie goeie aanklank by die leerders gevind. Dit gee vir my soveel hoop om te sien hoe dit kinders se harte aanraak en hoe hul oë vol hoop skiet wanneer hulle die boodskap kry dat daar hulp is,” sê Chrisma Faulkner, voorsitter van AfriForum se Velddrif-tak.

Ná die boodskap oor boelies en boeliegedrag het die leerders liedjies gesing en heerlik saam gedans.
Die tak het op 15 Junie ’n hindernisbaanuitdaging aangebied wat die kinders terdeë geniet het. Hulle moes onder meer by ’n net uitklim, deur buitebande spring en hul balans hou terwyl hulle oor ’n plank loop. Hulle het ook aan skyfskiet deelgeneem en verfbal gespeel, waarna die dag met ’n toutrekkompetisie afgesluit is. Faulkner en Franselien Smit, sekretaris van AfriForum se Velddrif-tak, het ook ’n boodskap oor boelies met die kinders gedeel wat hierdie aksie bygewoon het. Elke deelnemer het ’n sertifikaat en medalje ontvang.

“Ons wil al ons borge en elke persoon of instansie wat betrokke was hartlik bedank, want sonder julle sou dit nooit so ’n reusesukses gewees het nie. Hierdie persone en instansies sluit onder meer die GPF, Badisa, Oasis Water Velddrif, Prinro Velddrif, Johan de Witt, Spar Velddrif en AfriForum se Velddrif-buurtwaglede in. ’n Spesiale woord van dank aan AfriForum se Velddrif-span,” sluit Faulkner af.

Soortgelyke plasings