AfriForum se Vanderbijlpark-tak en Emfuleni Sakekamer beveilig Phoenix-park

AfriForum se Vanderbijlpark-tak het gedurende Julie 2017 in samewerking met die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit se sakekamer, Phoenix-park beveilig. Hierdie projek word reeds sedert 2015 gedryf nadat die park toenemend vir onwettige aktiwiteite gebruik word en erge besoedeling en rommelstrooi daar hoogty vier.

AfriForum het hierdie probleme onder die plaaslike munisipaliteit se aandag gebring en sodoende is die projek in samewerking met die sakekamer van stapel gestuur. Verskeie pale is onder meer opgerig om toegang tot die park te beheer, terwyl inligtingsborde ook opgerig is om gemeenskapslede van die park se reëls en regulasies te vergewis.

“Lede van die publiek het voortdurend gekla oor geraasbesoedeling, onwettige partytjies en rommelstorting in die park. Dit is daarom vir ons belangrik om met die munisipaliteit hande te vat en hierdie probleme proaktief aan te spreek,” sê Adriaan le Roux, voorsitter van AfriForum se Vanderbijlpark-tak. 
“Phoenix-park is daar vir die gemeenskap se gebruik en hierdie projek lê ons na aan die hart omdat veilige groen areas vir ons belangrik is,” sluit Le Roux af.

Soortgelyke plasings