Spyskaart +

AfriForum se Vanderbijlpark-buurtwag betrap inbrekers op heterdaad

Desember 7, 2015 deur Mariska Batt

 

AfriForum se buurtwagpatrollie in Vanderbijlpark, in samewerking met die dorp se Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het op Vrydag, 4 Desember 2015 twee inbrekers op heterdaad betrap. Die inbrekers was besig om by ʼn woning in die dorp in te breek toe hulle deur lede van die plaaslike buurtwag en GPF vasgetrek is. Verskeie gesteelde huishoudelike goedere is in die besit van die inbrekers gevind.

“Mense moet begin saamstaan en by AfriForum en die buurtwag aansluit. Binnekort gaan Vanderbijlpark te klein en te gevaarlik vir misdadigers word,” het Cor Schönborn, voorsitter van die Sektor 4 GPF en een van AfriForum se veiligheidskomiteelede, gesê.

“Dit is ʼn groot sukses vir AfriForum se Vanderbijlpark-tak en die GPF. Dit wys net weer hoe méér die gemeenskap hande vat, hoe méér kan ons misdaad saam hokslaan,” het Corné Cronjé, voorsitter van AfriForum se Vanderbijlpark-tak se veiligheidskomitee, gesê.

Die tak wil alle inwoners egter ook daaraan herinner dat misdaad tydens die feesseisoen gaan toeneem. Misdadigers is bewus van die feit dat huiseienaars gedurende hierdie tyd van die jaar minder waaksaam is. Talle huiseienaars is met verlof en dus uitstedig, wat tot gevolg het dat eiendomme dikwels onbewaak gelaat word en kwesbaar vir inbrake is.

“Mense moenie tydens die feesseisoen vergeet van basiese goeie veiligheidsmaatreëls nie. Sluit altyd hekke en deure, selfs al is jy tuis. Parkeer voertuie binne erwe en agter geslote hekke. Moenie waardevolle items in voertuie laat lê nie. Moenie snags uitgaan indien jy vreemde geluide hoor nie – skakel dadelik die SAPD en/of jou reaksiemaatskappy,” het Cronjé gesê.

AfriForum se veiligheidspan voer gereeld vrywillige patrollies uit om misdaad te bekamp. Gaby Berendt, adjunkvoorsitter van die GPF, raai alle inwoners aan om aktief betrokke te raak by misdaadvoorkoming. “Leer ken jou bure. Woon die GPF se misdaadinligtingsvergaderings by. Meld alle misdaad aan en sluit aan by georganiseerde patrolliegroepe,” het Berendt bygevoeg.

Indien jy addisionele inligting verlang oor AfriForum se Vanderbijlpark-tak of die aktiewe buurtwagpatrollies in die dorp, stuur gerus ʼn e-pos na afriforumvdb@gmail.com.