AfriForum se Upington-tak bekommerd oor standaard van rioolwerke


Die AfriForum-tak in Upington het verlede maand dié dorp se drink- en rioolwater getoets as deel van die organisasie se jaarlikse blou-en-groendruppelprojek. Dit blyk dat daar rede tot kommer is aangesien die rioolwatertoets vir sowel E. coli as fekale kolivorme gereageer het. Watertoetse by ’n plaaslike laboratorium het dié resultate bevestig.
Dié kwessie is by Elias Ntoba, die munisipale bestuurder van die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit, aangemeld en hy is gemaan om sy onverwylde aandag daaraan te gee. In ’n skrywe aan Ntoba maak die plaaslike AfriForum-tak ook melding van besoedeling in die Oranjerivier. Ten spyte van klagtes wat by die munisipaliteit aangemeld is, vloei daar steeds rou riool deur die strate, asook in ’n waterkanaal in, wat ’n groot gesondheidsrisiko vir inwoners inhou.

“AfriForum is bekommerd oor die toestand van die ‘gesuiwerde riool’. Dit is die munisipaliteit se plig om riool doeltreffend te suiwer. Die AfriForum-tak sal daarom voortgaan om druk op die munisipaliteit te plaas totdat hierdie probleem doeltreffend aangepak word,” sê Gonda Louw, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap.

Soortgelyke plasings