AfriForum se Tzaneen-tak stig buurtwag


Die AfriForum-tak in Tzaneen het ’n buurtwag op die been gebring wat ten doel het om misdaad in dié dorp in samewerking met ander plaaslike veiligheidstrukture te beveg.
Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, is die behoefte aan ’n AfriForum-buurtwag tydens ’n onlangse veiligheidsvergadering bepaal.

“Lede van dié AfriForum-buurtwag sal opleiding in patrollering, noodhulpbystand en toepaslike wetgewing ontvang. Dit is belangrik dat lede van veiligheidstrukture toegerus en bevoeg is om in noodsituasies bystand te bied en oor die nodige kennis beskik om altyd binne die raamwerk van die wet op te tree,” sê Grobbelaar.

Die buurtwagbestuur bestaan uit Louis Naude en Marius Jacobs (voorsitters), Mariëtte van der Westhuizen (koördineerder) en komiteelede Cornel van Schalkwyk, Nico Botha, Jacques Eales, Pieter Venter en Wynand de Jager.
Pieter Venter, AfriForum se takvoorsitter in Tzaneen, voeg by dat gemeenskapsbetrokkenheid ’n belangrike rol in Tzaneen speel en dat mense by tak- en buurtwagstrukture moet betrokke raak om ’n daadwerklike verskil te maak.

“Ons moedig die inwoners van Tzaneen en omliggende gebiede aan om betrokke te raak en ons te help om veiligheid in die gemeenskap ’n prioritet te maak.”

Raak betrokke en sluit aan by die buurtwag deur die woord “Veiligheid” na 45340 te SMS (R1) of skakel Mariette by 0834972702.

Soortgelyke plasings