AfriForum se Tzaneen-tak en SAPD span saam teen misdaad


Die AfriForum-tak in Tzaneen het gister sy samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bevestig deur ’n afskrif van die samewerkingsooreenkoms wat op 16 Januarie 2017 tussen AfriForum en die SAPD in Centurion gesluit, is aan genl.maj. Maggy Mathebula, Tzaneen se klusterbevelvoerder, te oorhandig.

“Hierdie ooreenkoms beteken dat AfriForum nou amptelik erken word as ’n vennoot in die geveg teen misdaad en dat die SAPD bereid is om saam met ons te werk op ’n plaaslike en nasionale vlak. Dit is vir AfriForum belangrik om saam met die SAPD betrokke te kan wees by veiligheidsoperasies binne die raamwerk van die wet,” sê Pieter Venter, voorsitter van die AfriForum-tak in Tzaneen.
“Dié ooreenkoms bevorder nie net samewerking tussen AfriForum en die polisie nie, maar ook binne gemeenskappe. AfriForum moedig alle veiligheidsinstansies en -inisiatiewe aan om ook saam met die polisie te werk in die geveg teen misdaad,” sê Louis Naude, voorsitter van die veiligheidsportefeulje van die AfriForum-tak in Tzaneen.

Naude sê verder dat AfriForum ’n beroep op lede van die gemeenskap doen om by hul plaaslike AfriForum-tak betrokke te raak.
Chris Boshoff, AfriForum se streekskoördineerder vir Limpopo, sê dié tak beoog ook om binnekort ’n buurtwag op die been te bring.
Diegene wat by dié buurtwag wil inskakel kan “Buurtwag” na 45340 SMS (R1).

Soortgelyke plasings