|

AfriForum se trauma-eenheid binnekort terug in Knysna

AfriForum Trauma, ’n eenheid van dié burgerregtewaghond wat op trauma-ontlonting, -berading en –ondersteuning fokus, keer vandeesmaand vir ’n tweede keer terug na Knysna in die Suid-Kaap om met slagoffers van die onlangse brande in dié dorp te praat.

Volgens Nantes Kelder, hoof van AfriForum Trauma, het die groot aantal versoeke uit die Knysna-gemeenskap hom en sy span genoop om terug te keer vir nuwe sowel as opvolgbesoeke aan slagoffers.

Hy sê voorts dat hoewel die eenheid se hooffokus slagoffers van geweldsmisdaad soos plaasaanvalle is, die verlies van ’n mens se eiendom en besittings eweneens traumaties.

“Ons het ’n groot behoefte aan trauma-ontlonting en berading na afloop van die Knysna-brande geïdentifiseer. Baie van hierdie mense, ryk en arm, het alles wat hulle gehad het verloor het en weet nie waar om te vat en waar om te los nie. Baie het nie eens huisversekering nie. Hoe begin ’n mens weer van vooraf?”

Kelder, tesame met Katy van der Merwe en Johan Kloppers, het tydens hul eerste besoek aan Knysna berading aan verskeie slagoffers gebied.

“Ons kan nie hul probleme vir hulle oplos nie, maar ons kan probeer om hul las ligter te maak en die pad saam met hulle te stap. Elkeen se pad, behoeftes en uitdagings is anders, en ons is daar om te bepaal wat elkeen s’n is en dit dan vandaar af verder te vat,” sê Kelder.

Onder dié slagoffers is Kobus en Jenny Mostert, ’n middeljarige egpaar wie se huis in die brand vernietig is etlike maande ná hul vir die eerste keer in jare weer finansieel op hul eie voete kon staan en ’n blyplek van hul eie gehad het.

“Min mense het ons nog ooit so bygestaan soos Nantes, Katy en Johan. Ek sal dit vir altyd onthou. Ek is baie dankbaar vir die ondersteuning wat ons van hulle ontvang het en steeds ontvang. Dis nog baie swaar en seer, maar hulle het ons reeds baie gehelp,” sê Jenny.

“Die Here het my geskape om te dien. En dit is wat ons die eerste keer in Knysna gedoen het en ook die tweede keer gaan doen. Ons gaan om mense te dien. Ons is daar om te luister en te help,” sê Van der Merwe.

Die span het ook slagoffers in Buffelsfontein besoek, onder andere Charlene Williams (27) wat tans saam met haar twee klein dogtertjies in ’n ou weermagtent saam met drie ander gesinne gehuisves word. Berading is aan die hele gesin gebied en die span het ook klere, skryfbehoeftes en kos aangekoop en by skenkingsentrums afgehaal.

Volgens Kelder besef mense dikwels eers later wat hulle getref het, veral wanneer die onmiddellike skok verby is, en dis wanneer dit veral belangrik is om uiting aan jou emosies te gee.

“Na ’n traumatiese voorval is slagoffers nog in ’n ontkenningsfase. Dikwels besef slagoffers ook nie self hoe getraumatiseerd hulle werklik is nie en word dit in baie gevalle deur familielede en vriende uitgewys. Mense probeer om sterk te wees, maar al is jy hoe sterk, kan ’n mens nie alles op jou eie verwerk nie.”

Die span is dit eens dat hulle baie uit hul eerste besoek aan Knysna geleer het – onder meer dat ’n mens altyd dankbaar moet wees vir wat jy het en dat jy te midde van slegte omstandighede nooit moet ophou om die mooi om jou raak te sien nie.

Soortgelyke plasings