|

AfriForum se Teks-tak verwyder vullis

AfriForum se Trichardt, Evander, Kinross en Secunda (Teks)-tak het op 2 Julie 2020 ’n vullisverwyderingsaksie van stapel gestuur aangesien die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit sy pligte versuim om dié dorpe in stand te hou.

“Lede het die vullisverwyderingsaksie aangepak om die netheid van dié dorpe, wat ons na aan die hart lê, te verseker. Ons wil graag vir Etienne Smit bedank vir die gebruik van sy trok en vir die werkers wat hy beskikbaar gestel het om te help,” sê Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak.

Die Teks-tak doen ’n beroep op die gemeenskap om hand by te sit deur groen stroke in gebiede af te kamp vir herwinning om die proses te vergemaklik. Die gemeenskap word ook versoek om te help om druk op die munisipaliteit te plaas om dienslewering te verbeter.

“Aksies soos hierdie dien as ’n konkrete bewys dat gemeenskapstrukture hulself vir ’n skoner, veilige en volhoubare toekoms moet beywer en self betrokke moet raak om probleme proaktief op te los. Die gemeenskap word aangemoedig om by dié tak se projekte betrokke te raak,” sluit Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, af.

Raak vandag nog by AfriForum se Teks-tak betrokke en word deel van die verskil: SMS “Secunda” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings