AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Edleen


Op 4 Februarie 2019 het die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan by die Laerskool Edleen in Kempton Park besoek afgelê. Dié veldtog dien ter bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in. Dit is vir AfriForum belangrik om saam met hierdie rolspelers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word met kennis toegerus om afknouery te hanteer.

“Dit is vir ons belangrik dat leerders die verskil tussen konflik en boeliegedrag verstaan, asook om ingelig te wees oor wat hulle moet doen as hulle hulself in ’n voorval van afknouery bevind. Elke onderwyser het ’n plakkaat ontvang van die les wat die leerders bygewoon het, asook AfriForum se teenboeliegids wat raad aan onderwysers, leerders en ouers bied. Dié gids bevat ook boelieverhale van bekendes, o.a. Donnalee Roberts en Ivan Botha, en aktiwiteite wat met die leerders behandel kan word,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapontwikkeling.
“Elke leerder by Laerskool Edleen is spesiaal en uniek – ons wil hê dat hulle ander moet behandel soos wat hulle self ook behandel wil word en mekaar die geleentheid gun om hul volle potensiaal te bereik. Dit is vir ons baie belangrik om boeliegedrag aan te pak en om die leerders meer bewus te maak van wat afknouery werklik beteken. AfriForum se uitstekende teenboelieprogram het ons beslis hiermee gehelp en ons onderwysers sal ook by die teenboeliegids baat vind,” sê Jacques van Deventer, departementshoof van opvoedkundige leiding by Laerskool Edleen.

Stuur ’n e-pos na leandie.brasler@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog of leierskapontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings