|

AfriForum se takbestuurskonferensie deurtrap uitdagings

 

Meer as 150 verteenwoordigers van takbesture by AfriForum het vandag ’n konferensie in Boksburg bygewoon waar koppe bymekaar gesit is oor hoe uitdagings in gemeenskappe aangepak kan word.

Nic Arnold, bestuurshoof van AfriForum, het die konferensie geopen en gepraat oor die belangrikheid van hoop.

“Wanneer ons van hoop praat, is daar drie aspekte ter sprake. Daar is diegene wat hoop steel, die wat dit skep en uiteindelik diegene wat dit uitdra. As burgerregte-organisasie fokus ons op die skep en uitdra van hoop. Dit is ons DNA. Ons is roepingsgedrewe en ’n selfdoeninstelling.”

Hy het verwys na die tientalle projekte wat die organisasie sedert die begin van die jaar aangepak het wat wissel van die stryd teen sportkwotas wat internasionaal geneem is, droogtehulp aan boere, aflewering van duisende liter water in Calvinia en ander dorpe, die aanstelling van adv. Gerrie Nel om korrupsie te ondersoek en die vrystelling van talle verslae rondom kwessies soos plaasmoorde en dubbele standaarde.

Arnold het ook uitgebrei oor die werksaamhede van ander afdelings soos AfriForum Trauma wat vanjaar reeds meer as 140 slagoffers gesien het.

Hy het ook verwys na veldtogte en projekte wat rondom taal en kultuur aangepak is soos die Dink-of-Sink-kompetisie en die teenboelieveldtog in skole.

Tydens die konferensie is daar in verskeie werkgroepe weggebreek waar bestuurslede kwessies soos veiligheid, omgewing-, plaaslikeregeringsake, die jeug en administrasie en mediaskakeling bespreek het.

Arnold se boodskap aan besture was ook dat dit nie gaan help om op die staat te wag vir dinge om te gebeur nie. Dit is in gemeenskappe se eie hande om vir ’n beter toekoms te werk om uiteindelike ’n vry, veilige en voorspoedige voortbestaan aan die suidpunt van Afrika te verseker. “Gemeenskapselfstandigheid is die antwoord vir die toekoms en nie staatsafhanklikheid nie.”

 

 

Soortgelyke plasings