--> -->
Spyskaart +

AfriForum se strategieë om skokresultate oor onderwys in Suid-Afrika aan te pak

Julie 3, 2019 deur Alana Bailey

In Februarie vanjaar is met groot gewag aangekondig dat die grootste deel van die Suid-Afrikaanse begroting aan onderwys spandeer gaan word.  Dit sluit in dat R262.4 miljard aan basiese onderrig (met ander woorde onderrig op skoolvlak) toegeken is.  Dit is een van die grootste bedrae wat wêreldwyd uit ’n nasionale begroting aan onderwys spandeer word.

Met ewe groot gejubel word die matriekuitslae jaarliks aangekondig.  In 2018 was die slaagsyfer sogenaamd 78.2%, weer eens ’n “verbeterde” prestasie in vergelyking met die voorafgaande jaar, maar die 48% leerlinge wat tussen Graad 10 en Graad 12 uit die skoolstelsel verdwyn het, word nie bygetel wanneer die slaagsyfer bepaal word nie.

Die Progress in International Reading Literacy Study (PIRLS) van 2016 het bevind dat Suid-Afrika laaste kom uit die vyftig lande wie se skole beoordeel is.  Die gevolgtrekking was dat kinders se lees- en lees met begripsvermoë grotendeels ontbreek.  Die vorige PIRLS-studie het in 2011 plaasgevind en in die studie van 2016 is bevind dat leespunte sedert 2011 nog nie in die land verbeter het nie.

Vandeesweek is die resultate van nog ’n studie bekendgemaak – die Teaching and Learning International Survey (Talis) en weer is Suid-Afrika in die swakste posisie:  die peiling het bevind dat Suid-Afrikaanse skole meer boelie-insidente, dwelm- en alkoholverwante voorvalle, asook misdaad soos diefstal en vandalisme as skole in enige ander van die 48 deelnemende lande ondervind.  Gewelddadige insidente is tot dubbeld soveel as in ander lande wat aan TALIS deelgeneem het.

Berigte meld so half verskonend dat dit die eerste keer is wat Suid-Afrika aan die peiling deelgeneem het en dat dit tans die enigste land in Afrika is wat deel daarvan uitmaak.

Die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, se reaksie daarop is dat die bevindings niks nuuts onthul nie, maar darem handig is as maatstaf vir toekomstige verbetering – ‘n niksseggende reaksie op sulke skokkende syfers dat sy eintlik om verskoning moes vra en moes bedank as sy verantwoordelikheid vir die toestand wou aanvaar.

Terselfdertyd kry LUR Panyaza Lesufi in Gauteng die opdrag om laerskole se prestasies te meet en reg te ruk.  Dit is nou einste die man wat nie eens die mees basiese beginsel vir prestasie in onderwys – veral op laerskoolvlak – naamlik moedertaalonderrig verstaan of wil verstaan nie.  En einste hy wat dink voller klasse is die oplossing vir Gauteng se nypende tekort aan skole, in plaas daarvan om skole te bou.  As jou restourateur die vernaamste vandaal in die dorp is, watter kans is daar vir verbetering?

Onderwysorganisasies wat die TALIS-resultate ontleed het, het bevind dat afgesien van die veiligheidskwessies waarna bo verwys is, die volgende van die vernaamste probleme is wat in Suid-Afrikaanse skole uitgewys is:

  • 4% van die onderwysers is ouer as 50 en onderwys was die eerste loopbaankeuse vir slegs 49% van alle onderwysers – ook die laagste persentasie van alle lande wat aan die studie deelgeneem het;
  • Net sowat 66% van onderwysers se tyd word aan onderrig spandeer;
  • 4% van die onderwysers voel in staat om hulle klasse te beheer;
  • Net 53.7% voel genoegsaam voorbereid om inlingtings- en kommunikasietegnologie vir onderrig in te span;
  • Sowat 67% van die onderwysers voel in staat om multikulturele klasgroepe te onderrig;
  • Skoolhoofde het verklaar dat hulle groot tekorte aan onderrigmateriaal ondervind – dit het 70% biblioteekmateriaal en 56% infrastruktuurbehoeftes ingesluit.

Die oplossings wat onderwysers vir die probleme voorgestel het, was veral dat klasse kleiner moet wees en onderwysers beter besoldig moet word.

Wat die hoeveelheid klastyd aanbetref, lyk die toekoms maar duister as LUR Lesufi nou nog ook laerskole se prestasie moet meet.  Dit klink kommerwekkend baie na nog verslae en administrasie.  Om die administrasie te verminder, behoort ’n dringende prioriteit van die onderwysdepartement op alle vlakke te wees, maar die minister gee ook geen aanduiding dat dit die geval is nie.

In onderwyskringe hoor ons al jare lank hoe ingrypend die sluiting van onderwyskolleges na 1994 die lewering van deeglik opgeleide onderwysers geknou het.  Dit is daarom ook geen verrassing dat die onderwyskorps volgens bogenoemde syfers verouder en minder roepingsgedrewe is nie.

Soos reeds aangedui, is daar ook weinig begrip vir die noodsaak van kleiner klasse om gehalte onderrig te bevorder – dit beleef AfriForum eerstehands waar ons nou al jare in ’n regstryd gewikkel is om vir ’n gemeenskap in KwaZulu-Natal ’n skool te kry wat deur die onderwysdepartement beloof is, maar nooit gelewer is nie.

Die TALIS-verslag bewys wel dat hoewel die onderwysowerhede skynbaar sonder benul tussen die uitdagings rondsteier, en verlaagde slaagsyfers en ander selfvernietigende oëverblindery aanwend om deurentyd sogenaamde beter prestasies aan te kondig, is AfriForum aktief besig om onderrig aan ons jeug te bevorder.

Ons pas byvoorbeeld deurentyd druk op alle maniere ‒ van gesprekke tot regsaksie – toe om klasgroottes te bestuur en moedertaalonderrig te beskerm en bevorder.

Verder ondersteun ons onderwysers deur ons ouerkorps op hoogte te hou van onderwysinligting en hulle aan te moedig om aan beheerraadsliggaamverkiesings deel te neem.

Ons bevorder leerlinge se ontwikkeling deur aksies soos AfriForum se onvoorbereide debatskompetisies en moedig prestasie met spelkompetisies aan.

Veiligheid van skole word beskerm deur die gids en ouditproses wat AfriForum se veiligheidskenners saam met skole onderneem om hulle paraatheid vir enige noodsituasies, ook wat geweldpleging, vandalisme en ander misdade aanbetref, te bepaal en op te skerp.

Ons versprei gereeld boeke aan minderbevoorregte skole om hulle biblioteke te help uitbou.

Met Besigheidsbytjies stimuleer ons die entrepreneursvaardighede van leerlinge om hulle vir toekomstige ekonomiese deelname en sukses voor te berei.

Verder is ons boelieprogram besig om kinders, ouers en onderwysers te help om afknouery in skole te bekamp, maar ook die redes daarvoor te verstaan en aan te pak.  Dit sluit nie net fisiese boeliegedrag in nie, maar ook kuberafknouery.

Hierdie is maar enkele voorbeelde van aksies wat AfriForum onderneem om ons jeug vir die toekoms voor te berei en die onderwyskorps te ondersteun.

Navorsing soos die TALIS-verslag is rede tot kommer, maar nie rede tot moedeloosheid nie.  Die realiteit is dat die staat se onderwysinstellings so wanfunksioneel geword het, dat dit nie met die welstand van ons kinders vertrou kan word nie.  Deur egter self verantwoordelikheid te aanvaar, kan ons verseker dat die jeug van vandag nasionaal en internasionaal net so goed kan presteer as die kinders van enige ander land wat aan peilings deelneem.

Ondersteun AfriForum se Onderwysprojekte deur “onderwys” na 42314 (R1) te SMS.