--> -->
Spyskaart +

Afriforum se strategie met hofsake oor tersiêre taalbeleide

Maart 8, 2017 deur Annelise

Dat dit nodig is om ’n keer te gesels oor die strategieë van AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit se regsaksies oor universiteite se taalbeleide het vir my in Desember 2016 duidelik geword. Ek het na ’n radioprogram oor die toekoms van Afrikaans geluister en ’n deel van die gesprek het onverwags oor ons hofsake gegaan. Daar het een van die akademici wat deelgeneem het, verklaar dat dit jammer is dat ons instorm en hofsake maak en nie eerder eers met die universiteitsowerhede praat nie. Dié kommentaar is óf die gevolg van onkunde, óf moedswilligheid. Laat ek verduidelik waarom ek so sê, met spesifieke verwysing na AfriForum se prioriteite en strategie.

In AfriForum se manifes, ons stigtingsdokument, verklaar AfriForum dat ons ons onvermoeid sal beywer vir:

  • moedertaalonderwys tot op die hoogste vlak; en
  • taalregte. Ons verklaar dat minderheidstale vrylik in die private en openbare domeine gebruik moet kan word.

Sedert die ontstaan van AfriForum in 2006, en later ook ná die ontstaan daarvan, was ons en ons jeugvleuel voortdurend in gesprek met owerhede oor die bevordering van taalregte – reg tot by ministeriële en selfs presidensiële vlak. Ons het ook verskeie gesprekke met grondwetlike strukture soos die 185-kommissie, die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie en die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad gehad. Verder was ons en jeugtaklede op kampusse voortdurend in gesprek met universiteitstrukture.

Ons het ook by universiteite aktief deelgeneem aan strukture wat inspraak in hierdie instellings se taalbeleide het; so is ons jeugtakke as organisasies op kampusse geregistreer en het studente aan studenteraadsverkiesings deelgeneem. Van ons ouer garde is weer tot alumni en ander strukture verkies.

Afgesien van dié deelname het ons telkens wanneer daar openbare deelnameprosesse oor die wysiging van taalbeleide was, betyds deeglik begronde voorleggings ingedien. Dan het ons ook deurlopend gesprekke met rektors, registrateurs en ander gesagsfigure en strukture van universiteite waar Afrikaans nog as ’n primêre onderrigtaal gebruik is, gevoer.

AfriForum was ook ’n stigterslid van die Afrikaanse Taalraad, tans die enigste bestaande raad in die land wat ’n taalgemeenskap volgens grondwetlike voorskrifte verteenwoordig. Sedert die ontstaan daarvan in 2008 dien ek op die raad van dié organisasie.

Ons het verder nasionale en internasionale deskundiges gekontrakteer om navorsing oor die belang van moedertaalonderrig en die handhawing van taalregte te doen. Bewusmaking is hieroor onder ons lede en die breë publiek gedoen deur middel van publikasies, gespreksgeleenthede en mediaberiggewing. Ons het soms selfs aktivisties opgetree met petisies of aksies vir die behoud en bevordering van Afrikaans, moedertaalonderrig en veeltaligheid op kampusse.

Dat ons nie gepraat het nie, en dat ons nie ons deeglik akademies begronde standpunte oor die behoud van Afrikaans as medium van onderrig bekend gemaak het nie, is dus eenvoudig nie waar nie.

Aanvanklik was die standpunt van al die bogenoemde gesagsfigure lippediens oor hoe hoog hulle waardering vir Afrikaans is en dat dit ’n bate vir universiteite is wat beskerm sal word. In die praktyk het ons egter al hoe meer klagtes van studente ontvang wat graag Afrikaanse onderrig wou ontvang en trouens ook daarvoor geregistreer het, maar dan deur dosente en medestudente geïntimideer word om Engelse onderrig te aanvaar.

Teen die einde van 2015 het studenteprotes op kampusse ook ’n rol begin speel. Dit was ver bo universiteitsowerhede se vuurmaakplek om die protes en aktiviste te hanteer en toe die betogings teen studiekoste, toelating, personeelaanstellings en behuisingstekorte ook ’n anti-Afrikaanse tema ontwikkel, is verengelsingsprosesse met meteoriese spoed deurgevoer.

In een gesprek met ’n rektor is reguit vir AfriForum se verteenwoordigers gesê dat die prosesse op die kampus maar hulle gang moet gaan en AfriForum dan maar hof toe moet gaan om uitsluitsel te kry oor wat die Grondwet bepaal. Daar is bygevoeg: “Die bal is in julle hande, ek probeer net keer dat my kampus brand.” Ironies genoeg het dié kampus toe wel gebrand, verengelsing en al, maar die woorde is ook een van die redes waarom ons vandag genoodsaak word om regsaksie teen drie universiteite (die UV, UP en Unisa) se taalbesluite in die howe te voer.

In die media en hofstukke word soms aangevoer dat ons belaglik is wanneer ons beweer dat daar ’n groter anti-Afrikaanse (of moet ek sê anti-Afrikaner?) proses op kampusse in die land plaasvind. Regspanne teen ons beweer dit is ’n natuurlike proses van taalbeleidsaanpassings wat hier afspeel. Die feit is egter dat vier van die vyf kampusse in die land waar Afrikaans nog as primêre medium van onderrig gebruik is, binne drie maande hulle taalbeleid verander het om Afrikaans tot ’n mindere of meerdere mate uit te faseer. Vir dekades was die taal ’n bate en binne weke word dit ’n nasionale krisis. ’n Mens kan spekuleer oor die redes hiervoor, maar dit is tog ooglopend dat hier nie van ’n natuurlike proses sprake is nie?

Buiten AfriForum se reeds genoemde standpunt in ons manifes oor die beskerming van taalregte en moedertaalonderrig, waarom glo ons dat ons regsaksie noodsaaklik is?

  1. Afrikaans is ’n hoëfunksietaal en het ’n plek as unieke Suid-Afrikaanse taal op ons kampusse. Die feit dat universiteite nie jaloers daaroor waak nie, is ’n skande. Die emosionele, akademiese, ekonomiese en nasionale waarde van moedertaalonderrig is internasionaal deeglik gedokumenteer. Akademiese instellings behoort op hoogte van die feite te wees, dit by registrasie onder studente se aandag te bring en dit wyd te propageer. In stede daarvan word studente gebreinspoel om te glo dat ’n sinvolle en volhoubare loopbaan slegs in Engels haalbaar is. Selfs die een universiteit wat spesifieke kursusse oor taalregte aanbied, naamlik die UP, se bestuur maak geen gebruik van die kennis nie, maar veg ten duurste in howe om Afrikaans so gou as moontlik as primêre taal van onderrig uit te faseer. Wat sê dit oor die diepte van akademiese denke by die bestuurstrukture van hierdie instellings? Ek gaan my verstout om te vra: As dié vergrype op taalgebied gebeur, wat gebeur elders in akademiese programme?
  1. Die vraag kan gevra word of die stryd oor taal gaan? Is dit eerlik om voor te gee dat dit die geval is? As alle studente in ’n vreemde, koloniale taal moet konformeer om vir mekaar aanvaarbaar te wees, wat sê dit van universiteite as platform waar jongmense leer hoe om met alle ander gemeenskappe in die wêreld om te gaan? Waar denke, wedersydse erkenning en respek juis bevorder moet word onder ’n nog plooibare jeug op die vooraand van volwassenheid? Juis omdat ons moet ruimte skep vir wedersydse erkenning en respek, moet taalregte beskerm word en die hofsake is een wyse waarop die beginsels hopelik beskerm kan word, maar debat hieroor ook gestimuleer kan word.
  1. ’n Ander argument wat reeds gebruik is in een van die sake is dat Afrikaans as medium van onderrig studente wat nie Afrikaans praat nie van toegang tot tersiêre onderrig weerhou. Op al die kampusse waar ons al in regsaksie gemoeid was, word studente egter in alle kursusse ook in Engels geakkommodeer en die regters kon gelukkig deur die rookskerm sien.
  1. ’n Nuwe argument is toe gebruik, naamlik oor hoe onregverdig dit is dat die voornemende Afrikaanse studente tussen onderrig in sy moedertaal of in Engels kan kies, terwyl die kind wat byvoorbeeld Sotho praat, nie moedertaalonderrig kan kies nie. Die Engelssprekende kind wat ook die keuse het, pla skynbaar niemand nie. Natuurlik is dit onregverdig en daarom behoort sprekers van die ander nege inheemse amptelike tale alles in hul vermoë te doen om juis ook daardie keuse op sekondêre en tersiêre vlak moontlik te maak.

Taal is nie net ’n kommunikasiemedium nie, maar ook ’n draer van identiteit en van hele kennissisteme wat met die uitfasering daarvan onomkeerbaar verlore sal gaan. As instellings wat kennisoordrag bevorder, het universiteite daarom juis die plig om taalaanbiedings ook uit te brei. Deur een taal af te skaf, word die posisie van die res nog meer benard – dit is die feit wat universiteite met hul skynheilige betoë oor regverdigheid toesmeer. Regte van een persoon kan nooit bevorder word deur dit van ’n ander weg te neem nie. As ’n persoon of taalgemeenskap ook nie van hierdie spesifieke taalregte wil gebruik maak nie, is dit steeds geen rede om dit van diegene wat dit wel wil opeis, weg te neem nie.

  1. Dan is daar die jongste argument – dié oor segregasie. As daar Afrikaans en Engels op ’n kampus is, sal die Afrikaanse klasse oorwegend wit en die Engelse klasse oorwegend swart wees. In ’n onlangse saak het een regter selfs gesê die feit dat die skeiding spontaan gebeur sonder dwang, dit nie minder verwerplik maak nie. Deur eentaligheid sal studente leer assimileer. Eerstens gee die argumente nuwe lewe aan die drogredenasie dat Afrikaans net deur wit sprekers gepraat word. By twee geleenthede is daar al neerhalend deur ’n universiteit se regsverteenwoordiger verwys na bruin en swart studente wat Afrikaanse onderrig verkies, asof dit nie ook hulle moedertaal of keusetaal is nie. ’n Burgerregte-organisasie kan nie die ontkenning van hulle regte aanvaar nie; ons moet sterk standpunt daarteen inneem. Verder, soos regters Hendricks, Motimele en Mokgohloa in Julie 2016 in die UV-uitspraak gesê het – die grondwetskrywers was destyds deeglik bewus van die feit dat die sprekers van die elf verskillende amptelike tale verskillende demografiese samestellings het, en tog het hulle ruimte in Artikel 29 van die Grondwet vir ’n keuse van taal van onderrig geskep.
  1. Steeds hoor ons die argument van globalisering en van Engels as noodsaaklike lingua franca. Engels is inderdaad belangrik, en verstaan mooi dat ons nie met ’n “stryd” teen Engels besig is nie. Ons ontken nie die waarde van die taal of die feit dat baie leermateriaal eksklusief daarin beskikbaar is nie. Wat wel beklemtoon moet word, is dat iemand wat op tersiêre vlak studeer ook in die globale neiging van vandag meertalig behoort te kan funksioneer. Dit is deel van die onderskeid tussen ’n basiese geskoolde mens en iemand met hoër opleiding. Meertaligheid gee toegang tot ’n wyer verskeidenheid bronne en dus meer denke en navorsingsuitsette. Ook meer ekonomiese moontlikhede, as ons dan geld moet praat. Wie is die grootste bate vir die landelike gemeenskap by Lady Frere – die Engelse dokter of die dokter wat Engels en Xhosa kan praat? Wie gaan die maklikste oor die weg kom in Genève en Brussel – die eentalige Engelssprekende of die Suid-Afrikaner wat ook Afrikaans en Frans kan praat? Voornemende studente word skaamteloos mislei om nie te weet dat dit in 2017 steeds die geval is nie.
  1. Kollegas en lede vra soms waarom ons nie eerder al ons aandag daaraan wy om eie, Afrikaanse instellings te bou nie. In die eerste plek moet ons onthou dat Afrikaans ’n hoofstroomtaal is wat al dekades lank in alle vakgebiede as taal van onderrig en navorsing gebruik word. Afrikaanssprekendes betaal belasting wat aangewend word om openbare instellings te befonds. Ons het ’n reg om in die hoofstroom geakkommodeer te word. Net so het ons ook ’n reg en ’n behoefte om privaat instellings soos Akademia en Sol-Tech op die been te bring. Die skep van nuwe instellings verg baie tyd en hulpbronne. Ons moet die een doen, maar mag nie die ander nalaat nie.

Tweedens, privaat instellings ontwikkel stadig om verskeie redes, terwyl verengelsing basies reeds by drie instellings binne maande voltrek is. As ons nie die verengelsing teëstaan nie, gaan ons ’n generasie studente verloor wat te veel is om in die bestaande privaat instellings geakkommodeer te word. As hulle eers akademies verengels het, is die kans dat die generasie ná hulle weer sal verafrikaans, soveel minder. Intussen verloor ons die ontwikkeling van Afrikaanse woordeskat, leermateriaal, dosente en helaas ook die aflewering van professionele mense wat in Afrikaans diens kan lewer aan ons eie mense.

Ons moet ook vir ons jeug leer dat ons taal die moeite werd is om voor te werk (met die bou van instellings), én te veg (deur regsaksie). As ons die opkomende generasies leer dat ons taal só min werd is dat ons bereid is om dit sonder slag of stoot uit die openbare sektor te laat verdryf, kan ons nie verwag dat dit hulle verbeelding en harte moet aangryp nie.

  1. Ten slotte sien ek ook ons regsaksies as ’n uiters belangrike bydrae tot die terrein van taalregte – nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd. Taalregte is ’n redelike jong regsveld en daar is min uitsprake daaroor in Suid-Afrikaanse reg; die meeste hiervan te danke aan die onvermoeide aksies van taalaktivis Cerneels Lourens. Met elke saak en elke uitspraak – of ons nou daarmee saamstem of nie – word aan die korpus van regspraak hieroor gebou en word die debat voortgesit, hopelik met die gevolg dat daar eendag eensgesindheid hieroor in die land bereik kan word.

Die feit dat daar min uitsprake en sake is, het ’n ander kommerwekkende gevolg en dit is dat baie regslui – selfs senior advokate en soos reeds gelewerde uitsprake bewys, ook regters – min weet van taalregte. Dit word as ’n soort luuksheid gesien wat ’n mens net uit eie belang probeer afdwing. Afgesien van die menswaardigheid wat beskerm word wanneer taalregte beskerm word, het die besef dat die handhawing van taalregte direk tot ekonomiese groei en politieke stabiliteit bydra, dus helaas ook nog nie neerslag by hulle gevind nie. Hier lê daar vir alle instellings in die land wat met taal gemoeid is, ’n groot taak voor.

Tydens die appèlsaak van AfriForum, AfriForum Jeug en Solidariteit teen die Universiteit van die Vrystaat se pasaanvaarde taalbeleid wat op 17 Februarie 2017 in Bloemfontein aangehoor is, het ek na ’n erge salvo argumente van die universiteit se regspan teen Afrikaans redelik mismoedig begin voel. En toe kyk ek oor my skouer na die ry AfriForum Jeugstudente met hulle T-hemde wat sê “Vreesloos Afrikaans”. Ek sien hoe netjies hulle lyk, hoe aandagtig hulle luister en ek voel sommer weer beter. Toe kyk ek voor my na die advokate wat so passievol redeneer teen Afrikaans en moedertaalonderrig, ingestel op ’n wen ten alle koste. Ek besef dat die regters sal besluit wat hulle sal besluit en die geskiedenis sal maar moet oordeel hoe deeglik deurdag daardie besluite was en wat die langtermyngevolge van dié besluite sal wees. In daardie opsig is die hof voor my al amper deel van die verlede, maar daardie jongmense agter my – dít is die toekoms en dis waarom ek weer moed het!

Hopelik het die punte aan jou ’n duideliker idee gegee waarom AfriForum soveel hulpbronne aanwend in die regsaksies teen universiteite se Afrikaans-onvriendelike taalbeleide. Ook waarom ons die hoogste waardering vir ons “vennote” in dié aksies het: vir die studente en dosente wat, ten spyte van vrees vir viktimisering, nie huiwer om as mede-applikante in sake op te tree nie. Ek salueer julle vir die moed van julle oortuiging! Ook opregte waardering aan Solidariteit wat nie gehuiwer het om saam met ons die hofsake by Kovsies en Tukkies aan te pak nie, en vir die Trust vir Afrikaanse Onderwys, sonder wie se ondersteuning ons beslis ook nie die sake sou kon volhou nie.

Vir die res van julle – steun asseblief ons pogings, deel die inligting oor waarom regsaksie een van die nodige strategieë is om die toekoms van ons taal op tersiêre vlak te beskerm en te bevorder. Steun ook ander strategieë soos die bou van privaat instellings soos Aros, Akademia en Sol-Tech, en help alle Suid-Afrikaners om bewus te word van die waarde van ons tale en die belangrikheid van taalregte.

Alana Bailey is tans werksaam as adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum. Sy is ook die bestuurder van Kraal Uitgewers, ’n direksielid van AfriForum, Maroela Media, die Afrikaanse Taalraad, die Voortrekkermonument en Erfenisstigting.  Sedert Mei 2015 dien sy as lid van die minister van Kuns en Kultuur se taakspan oor erfenistransformasie.